top of page

Om die Here se wil te doen


Om die Here se wil te doen, is nie net ‘n verpligting nie; dit is ‘n voorreg!


Ja, om die Here se wil te doen is verpligtend. Jesus waarsku ons duidelik in Matteus 7:21 dat “…nie elkeen wat vir My sê: ‘Here, Here,’ sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is.”

So om die wil van die Here te doen is ‘n baie belangrike deel daarvan om ‘n Christen te wees en ‘n mens kan nie werklik jouself ‘n Christen noem as dit nie vir jou belangrik is nie.


Vir Christene is dit egter ‘n baie groot voorreg om die wil van die Here te mag doen en nie bloot net ‘n verpligting nie. Die psalmdigter in Psalm 40 het iets hiervan beleef en daarom kon hy in verse 9 en 10 skryf: “Om u wil te doen, my God, is my een begeerte, u woord is my hele lewe. Met blydskap het ek aan die gemeente vertel U het my verlos.”


Hierdie psalmdigter gaan eintlik so bietjie verder as om te sê dit is ‘n voorreg om die wil van die Here te doen; vir hom is daar vreugde te vind daarin. Selfs nóg meer: die wil van die Here word sy hele lewe! In ‘n wêreld wat soveel klem plaas op ons eie wil en wat vir ons probeer sê dat ‘n mens is gelukkiger wanneer jy jóú wil kan afdwing en jóú sin kan kry, is die Bybel se boodskap die teenoorgestelde: die mens is op haar gelukkigste wanneer sy die wil van die Here doen.


Die rede hiervoor is voor-die-handliggend: die Here het ons ontwerp en gemaak. En enige iets werk op sy beste wanneer dit funksioneer volgens die plan van die Ontwerper. En dit beteken dat ‘n mens kan net vreugde en vervulling beleef wanneer jy die wil van die Here doen.


So hoe is ons ontwerp? Ons is ontwerp volgens Jesus se woorde in Matteus 22:37 tot 39: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38 Dit is die grootste en die eerste gebod.” Dít is waarvoor ons ontwerp is.


En wanneer ons funksioneer volgens die manier waarop ons ontwerp is, is ons ook goed vir ander mense. Want Jesus gaan verder in bostaande teksgedeelte wanneer Hy sê: “En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.”


Mag jy vreugde vind daarin om die wil van die Here te doen; mag jy goed wees vir ander mense deur die wil van die Here; en mag jy onthou dat die wêreld met sy verleidelike dinge gaan verby, maar wie die wil van God doen, bly ewig lewe. (1 Johannes 2:17)

6 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page