top of page

Om heel te word uit Prediker uit

Prediker is ‘n skeptiese boek. Daar is teenstrydighede in Prediker wat dadelik opval wanneer jy dit lees. Teenstrydighede met Bybelse konsepte soos hoop en volharding maar ook teenstrydighede met sy eie storie en die trant van sy skryfwerk. Prediker is een van die gokhmah (wysheid) geskrifte in die Ou Testament.

 

Die Wysheidsgeskrifte het probeer om leermeesters te wees wat mense begelei na die sin van die lewe en ‘n gelukkige lewe. Hulle was op soek na daardie verborge deugde wat mense in pas kry met die ritmes van die natuurlike, die bonatuurlike en die mensdom op hierdie planeet. Maar meer swartgallig en pessimisties as Prediker kry jy nie sommer nie. Die skrywer reken daar is absoluut geen sin in die lewe nie. Alles is ‘n gejaag na wind. En alles is sinloos. So die vraag wat opkom, is: Hoe kan dit wysheid wees?

 

Kyk hoe begin hoofstuk 1 (Afr20):

 

‘Sinloos, volslae sinloos, sê Prediker,

sinloos, volslae sinloos; alles is sinloos!

Watter voordeel is daar vir 'n mens met al sy inspanning

waarmee hy hom afsloof onder die son?’

 

Lesers wat met wakker sintuie deur Prediker lees, kom vinnig agter dat hy homself plek-plek ‘weerspreek’. Spesifiek dat hy sy pessimisme partykeer ver weg toeknoop en eenvoudige doendinge ontsluit wat heelheid bring en genees. Veral as dit voluit en met oorgawe gedoen word soos wat sy wysheid dit aanbeveel.

 

Hy skryf onder andere:

  • eet jou brood met vreugde,

  • geniet die tyd met mense vir wie jy liefhet,

  • die beste vir 'n mens is om vrolik te wees en die lewe te geniet,

  • doen jou werk met oorgawe.

 

Dit beaam glad nie die klanke van ‘n sinlose bestaan nie. Met tyd ontdek ‘n mens dat die Gees van Christus die Prediker se oënskynlike weersprekings op nuwe wiele sit en ons help met die herstel van die verhoudings waarbinne ons leef. Ons verhouding met die Here, ons verhoudings met mense, ons verhouding met onsself, ons verhouding met die werkplek en al die verhoudings waarbinne ons bestaan.

 

Dit is sulke skaafwerk aan ons verhoudings wat help om heelheid sinvol na te jaag.

 

Gebed: 

Kom Skeppergees, kom en herskep ons verhoudings met God, met onsself, met die wêreld, en met ander! 

Amen.

 

(gebed - erkenning aan prof. Cas Wepener)

0 views0 comments

Comments


bottom of page