top of page

Om te kan hoor


ree

Ek het gehoorverlies. My linkeroor is basies heeltemal doof. Dis deels geneties, maar dis aangejaag deur ʼn virale infeksie in my 30’s wat my gehoorsenuwee aangetas het. Ek vermoed meeste mense wat my al van naby gesien het weet ook dat ek gehoorapparate dra om te kan hoor.

Ek weet vir ʼn feit dat ʼn hele klomp lidmate al met my gepraat het in die kerk se portaal, na eredienste en dat ek dan glad nie reageer het nie, want in die eerste plek het ek in daardie oomblik dalk nie my ore – dis nou my gehoorapparate - in nie, omdat my gewone ore (van kraakbeen en vel) nie die apparate en die preek mikrofoon lekker wil dra nie of omdat ek dalk my in-oor monitor ingehad het terwyl ek deel van die musiekgroep was. En selfs al dra ek my gehoorapparate, dan sukkel hulle om te onderskei watter van die klomp verskillende klanke in daardie omstandighede op my gerig is en daarom harder gemaak moet word.

Die probleem is dat wanneer jy met my praat en ek nie hoor nie, dan weet jy nie al hierdie dinge nie. Ek weet dat baie mense wat dit al met my oorgekom het voel of ek hulle ignoreer en dit kan seermaak en ons verhouding negatief beïnvloed.

Ek het as gevolg van my gehoorverlies geleer dat ek baie aandag moet gee aan ander tekens rondom my. Ek moet rondkyk. Ek moet na mense rondom my se gesigte kyk om te sien of hulle met mý praat. Wanneer mense met my praat moet ek ook aandag aan hulle mond gee om die boodskap wat my ore hoor aan te vul met die vorms wat hul mond maak. Ek moet ook seker maak dit wat ek hoor is dit wat hulle gesê het. Ek moet bevestig wat ek gehoor het of vra “Sê gou weer?” en dit maak vloeiende kommunikasie moeilik.

Die voordeel daarvan is dat mense waarmee ek so gesels weet dat ek gehoor het wat hulle sê. Ek weet dat wanneer iemand weet dat ek hulle gehoor het, daai persoon belangrik voel en dat dit ʼn manier van omgee is.

ʼn Ander voordeel van my gehoorverlies is dat stilte vir my baie toeganklik is. Ek kan maklik op my regteroor (die een wat nog mooi kan hoor) gaan lê en dan word die wêreld stil. Dit is veral ʼn voordeel wanneer my gedagtewêreld druis en rumoer. Want, wanneer my gedagtewêreld lawaai hoor ek baie min van wat belangrik is. Ek hoor nie die dinge wat mense nié met hulle stemme sê nie – die belangrike dinge wat sonder woorde gesê word. Ek hoor ook nie die fluisterstem van God se teenwoordigheid nie.

Dis wanneer ek my ore bietjie uithaal en op my regtersy gaan lê (soms sommer op my kantoor se vloer). Ek haal dan diep asem en vra “Here, help!” – net so. Soms hoor ek niks anders as die suis van tinnitus in my ore nie; soms dalk die geruis van die lug deur my lugweë; of miskien my hartklop. Wanneer dit al is wat ek hoor, onthou ek Paulus se woorde “Want deur Hom leef ons, beweeg ons en bestaan ons” (Hand. 17:27) en ek onthou dan dat ek steeds “oraait” is.

Soms hoor ek meer en dan kan ek weer opstaan en geïnspireer aangaan met my werk.

Hoe minder ek met my ore kon hoor, hoe meer het ek geleer dat daar soveel meer aan hoor is. Om regtig te kan hoor vra juis dat ons soms minder moet kan hoor – dit vra soms totale stilte.

Hierdie Sondag is Nasionale Biddag vir Dowes. Ons wil saam met ons broers en susters wat sukkel om te hoor bid:


·       Bid vir die NGK dowe gemeentes in ons Sinode streek – die Dowe Familiekerk in Worcester en die De la Bat gemeente in Bellville (saam met Kenridge Gemeente in die Ring van Bellville) asook hul leraars.

·       Bid vir meer tolke en standplaas leraars wat opgelei kan word.

·       Bid vir dowe mense se families.

·       Bid vir mense in ons gemeente wat hardhorend is en gehoorverlies ervaar.

·       Bid dat meer dowes God se Woord sal hoor en Jesus sal leer ken as hulle Here.

·       Bid vir stilte as ʼn gawe om regtig te kan hoor.

 
 
 

Comments


bottom of page