Ons het mekaar nodig.
- Kenridge Gemeente

- Jul 22, 2022
- 2 min read

1 Thess 5:11 – “Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan ...” Die wêreld waarin ons leef maak dit moontlik dat ek en jy vir lang tye sonder ander mense kan klaarkom. Ons het tydens die pandemie agtergekom dat die tegnologie ons in staat stel om te kan netwerk met ‘n komp mense sonder dat ons ooit fisies by mekaar hoef te wees. Ons het in die proses geleer dat ons baie dinge baie makliker en vinniger aanlyn gedoen kan kry. Tog het ons almal ‘n dimensie van fisiese medemenslikheid gemis. Ons het geleer dat ons mense naby aan ons nodig het. Ons het mekaar nodig. Ek sien ‘n tyd gelede ‘n groep ganse wat hoog in die lug in formasie vlieg en onthou ‘n artikel oor ‘n paar kritiese beginsels wat ons by ganse kan leer: Beginsel 1 - ‘n Individu het die groep nodig. Ganse migreer oor lang afstande en vlieg dan in ‘n wigvormige V-formasie. Dit stel hulle in staat om 71% verder te vlieg as wat ‘n gans op sy eie kan vlieg. Die klap van die voorste ganse se vlerke veroorsaak ‘n suigkrag wat die agterstes letterlik insuig en saamtrek. Beginsel 2 - ‘n Gedeelde las is ‘n ligte las Wanneer die voorste gans moeg word, val hy/sy terug en val gewoon agter in die groep in. ‘n Ander gans neem dan ʼn beurt om die lugstroom aan die voorpunt van die wig te klief. So neem hulle beurtelings leiding om mekaar teen uitputting te beskerm. Beginsel 3 - Die aanmoediging van die groep laat jou vasbyt. Ganse in vlug maak geluide om mekaar aan te moedig. Die agterste ganse moedig die leiers in die voorste linie aan om vas te byt. Die “honk honk-geluide” wat ons hoor, is nie kritiek op die leiergans se styl of rigting nie, maar positiewe aanmoediging wat die leier en die groep se moraal hoog hou! Beginsel 4 - Die groep gee om vir die individu. Wanneer ‘n gans moeg word, siek of verwond is, sal twee ander ganse saam met hom/haar uit die formasie uitval. Hulle sal saam met die swak lid van die groep gaan sit om hom/haar te help en te beskerm. Hulle sal by hom/haar bly totdat die gans dood is of sodanig herstel het sodat hulle die vlug kan hervat. Ek dink ons het baie te leer by ganse want dis hoe verhoudings moet werk. Ons het die momentum, die aanmoediging en die omgee van ‘n groep nodig. Miskien het dit tyd geword dat jy ‘n beurt moet neem om voor te vlieg? Of dalk moet jy uitval en agter vlieg sodat jy van jou uitputting kan herstel? Miskien moet jy heeltemal uitval om iemand anders te help. Miskien moet ons ook besin oor die geluide wat ons maak. Neem vandag ‘n besluit om positiewe geluide van aanmoediging te maak in al die groepe waarvan jy deel is. Begin sommer by die mense die naaste aan jou – dis ‘n goeie oefen plek! Gebed - Here, help my om aan te moedig eerder as kritiseer. Amen Vrede vir jou. Willem




Comments