Padlangse verduidelikings
- bestuurder5
- Jun 9, 2023
- 2 min read

Moeilike konsepte word baiemaal makliker gemaak deur dit aan die hand van paaie of reise te verduidelik. Min dinge is in elk geval lekkerder as vakansies op lang paaie. Die Bybel is nie ‘n uitsondering nie. ‘n Hele klompie geloofsake word met paaie verduidelik.
Psalm 1 vergelyk die lewe van gelowiges teenoor die lewe van goddeloses met twee paaie. Die een se pad lei tot ondergang en die ander een kan staatmaak op die Here se teenwoordigheid. Al veertien Psalms in die kleiner bundel van Psalm 120 tot Psalm 134 word bedevaartsliedere genoem. Dit is Padpsalms wat van oraloor op die lang paaie na die tempel in Jerusalem tydens Paasfees elke jaar gebid en gesing is om God se beskerming en sy teenwoordigheid in te roep. Die gevare het orals langs die paaie gewag.
Die groot wysheidsleraar gee in Spreuke 3 handige padkos vir elke lewensreis saam: ‘Ken Hom in al jou weë, en Hy sal jou paaie reguit maak.’
Israel se wittebroodstyd saam met God na die Beloofde Land was ‘n lang reis van 40 jaar. God het sy volk tydens hierdie reis beskerm, gelei, bemoedig maar ook hervorm om by Hom aan te pas. En in Lukas 10 het Jesus mense padlangs uitgestuur om sy bediening verder te vat onder die ‘wolwe’ in. Een van sy duidelike opdragte was dat hulle nie ‘langs die pad’ tyd moes mors nie en enige hulp moet aanvaar soos wat dit aangebied word.
Jesus het ‘n gelowige lewe wat veronderstel is om sonder vooroordele en vol sagtheid en versorging te wees ook padlangs verduidelik. Hy het dit so begin vertel: ‘Toe 'n man eenmaal OP PAD WAS van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval.’ Die padwaarheid van hierdie verhaal was dat ‘n gehate, onwelkome Samaritaan meer koninkrykswaarde as die priester en die leviet gewys het.
En in Matteus 7 het Jesus lewensbrandstof vir elke tenk gegee. Naamlik dat die ongemakliker smaller pad met die nou poort waarop min mense aansukkel, die pad van Jesus se koninkryk is.
Mag die Here altyd vir jou ‘die regte pad wys’ (Spreuke 3) sodat jy ‘jou weg veilig bewandel en nie jou voet stamp nie.’ En mag Hy vir jou die lig op jou pad en die lamp vir jou voete wees sodat jy nie in die donker hoef te reis nie (Psalm 119).




Comments