Please be patient
- bestuurder5
- Jul 26, 2024
- 2 min read

Ek is dikwels ongeduldig. Ek hou nie van lang rye by Checkers nie; ek hou nie van verkeer wat doodstil staan nie; ek hou nie van sit en wag op die telefoon terwyl dieselfde deuntjie vir die twee-en-dertigste keer wéér speel nie; ek hou nie van daardie sirkeltjie wat op jou rekenaarskerm perpetueel in die rondte draai nie; Binnelandse Sake is die heel ergste! En dan altyd die woorde: “Please be patient”.
Ek vermoed dat min van ons die bostaande dinge geniet, want ons lewe in ‘n kits-samelewing waar daar ‘n hoë premie geplaas word op vinnige resultate. Hoe ironies is dit nie, dat ons, ten spyte van al ons vooruitgang, steeds so dikwels moet wag?
In Psalm 27:14 staan daar:
“Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom!
Hou moed! Wees sterk!
Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!”
Bly wag op die Here. Ons gejaagde, ongeduldige lewens maak hierdie opdrag nogal moeilik. Miskien help dit ons om aan God se geduld te dink. In Lukas 10 gaan eet Jesus en sy twaalf dissipels by twee susters: Marta en Maria. Marta was druk besig (ongeduldig besig?) met al die honderde voorbereidings wat dit verg om sóveel gaste te onthaal. Maar Maria het rustig by Jesus se voete gaan sit en na Hom geluister. Hieroor was Marta baie ontsteld en sy het toe by Jesus gekla oor haar suster wat so rustig kan sit, terwyl sy moet bontstaan om by alles uit te kom.
Jesus antwoord haar op ‘n baie sagte manier deur te sê: ““Marta, Marta, jy kwel jou tog oor so baie dinge! Daar is regtig net een ding wat nodig is om oor besorg te wees. Maria het dit ontdek – en Ek gaan dit nie van haar af wegneem nie.”
Jesus kon kortaf gewees het met Marta. Hy kon ongeduldig en vies vir haar geword het, maar Hy het nie. Hy het geduldig en met sagmoedigheid gereageer deur te sê, “Marta, Marta…”. Hierdie herhaling van haar naam dui daarop dat sy woorde diep empatie gedra het. Hy is nie teleurgesteld of onsteld nie, hy wys sagkuns daarop dat sy besig is om uit te mis op dít wat werklik belangrik is. Haar ongeduld staan in die pad daarvan dat sy vir Jesus beleef.
Gelukkig is dít die manier waarop die Here ook met ons werk. Selfs wanneer ons ongeduldig, haastig en kortaf is, reageer hy met lankmoedigheid en liefde. Die Psalmdigter moes iets hiervan beleef het toe hy in Psalm 145:8 geskryf het, “Genadig en barmhartig is die Here, stadig om kwaad te word, en ryk in liefde.”
Mag jy gedurende hierdie dag beleef dat die Here stadig is om kwaad te word, en ryk in liefde. En mag dit jou inspireer om ook só te gaan leef.




Comments