Prime Hydration
- bestuurder5
- May 5, 2023
- 3 min read

Die afgelope paar weke is ek gefassineer deur ‘n vreemde verskynsel: derduisende mense (veral jongmense) het na winkels gestroom om ‘n peperduur energiedrankie te koop. Sommige van hulle het tot 6 ure tou gestaan vir die kans om ‘n botteltjie Prime Hydration Drink te koop teen feitlik R40 per bottel! Klaarblyklik is R40 per bottel die afslagprys. In tonele wat ‘n mens herinner aan Black Friday, is die gestreepte botteltjies haastig opgeraap en by heelwat winkels was dit binne enkele ure uitverkoop.
En dis nie net in Suid-Afrika waar Prime Hydration so gewild is nie. Die energiedrankie het die wêreld stormgeloop en dit het oornag só gewild en gesog geraak, dat sommige herverkopers in Amerika en Engeland dit verkoop vir die ekwivalent van R1000!
Die verbasende ding is dat daar niks spesiaal of besonders is aan hierdie spesifieke energiedrankie nie. Dit het geen voordele bo al die ander energiedrankies op die mark nie, en die meeste verbruikers se terugvoer is dat dit ook nie wat-wonders smaak nie. So waarvandaan kom hierdie middelmatige produk se ongekende sukses dan?
Prime Hydration word besit deur die YouTube sterre KSI en Logan Paul. Dié twee voormalige boksers het tesame 47 miljoen volgelinge op sosiale media. Hulle het hierdie gewildheid en ‘n baie slim en kreatiewe bemarkingstrategie gebruik om ‘n reuse aanlyn bohaai rondom hul energiedrankie te skep.
Bronwyn Williams is ‘n trends analyst en sy sê dat die sukses van Prime gewortel is in die feit dat dit so skaars en moeilik verkrygbaar is: "Teenagers, like all human beings, but particularly younger people, are very susceptible to phenomena such as mimesis, which really refers to the fact that we want what other people want and in particular, we want what other perceived to be high-status people want."
Ons wil hê wat ander mense wil hê – veral mense wat in ons oë hoë status het. Dit laat ons populêr en waardevol voel. Met ander woorde: mense het só baie geld spandeer op ‘n nuttelose energiedrankie; en soveel moeite gedoen om dit in die hande te kry, om beter oor hulself te voel?
Klink dit vir jou ook ‘n bietjie “crazy”?
Gelukkig bied die Bybel aan ons ‘n alternatief op populariteit. Populariteit laat ons goed voel oor onsself, maar ons is geneig om aan daardie gevoel vas te klou, in plaas daarvan om eerlik om te gaan met ons tekortkominge. Die Bybel noem hierdie toestand trots of hoogmoedigheid. Trots en hoogmoedigheid lei dikwels tot ‘n wrede ontnugtering wanneer jy op ‘n dag wel gekonfronteer word met jou tekortkominge en wanneer jy nie van dit kan ontvlug nie. Daarom vermaan Romeine 12:3: “Namens Hom wat my in sy genade tot sy apostel gemaak het, sê ek aan elkeen van julle dat jy nie jouself moet oorskat nie, maar dat jy jouself nugter moet beoordeel volgens die geestelike toerusting wat God aan jou toebedeel het.”
Die Bybel sê ook duidelik vir ons dat ons nie op aarde geplaas is om vir onsself naam te maak nie. Ons is hier met ‘n doel: om die Here se verteenwoordigers te wees. Daarom leef ons om onsself minder te maak en om Hom meer te maak. Dis hoekom Galasiërs 1:10 vra: “Hoe klink dit vir julle? Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? Probeer ek mense gelukkig maak? As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ’n dienskneg van Christus nie.”
Ons wat onsself Christene noem, het dus nie ‘n energiedrankie nodig om waardevol te voel nie. Ons is waardevol omdat die Here ons liefhet ten spyte van ons foute; en omdat Hy ons op aarde geplaas het om vir Hom te werk en vir Hom te leef. En onthou: Jesus het tans 2.2 miljard volgelinge in die wêreld! Hy is die grootste “influencer” wat die wêreld nog ooit gesien het.




Comments