top of page

Sabbat


ree

Ek het vroeër in April gepreek oor hoe die Here ons as sy kinders in ʼn nuwe familie-ritme innooi. Dis ritmes en roetines wat heeltemal anders lyk as dit wat ons rondom ons beleef. Komende Sondag, op grond van die Leesrooster gaan ons ʼn paar gedagtes deel oor Sabbat. Die skrywer, John Mark Comer help my baie in my gedagtes oor Sabbat. Hy skryf die volgende in ʼn klein boekie met Sabbat-oordenkings (vrylik vertaal):

 

“Die Sabbat is 'n dag soos geen ander nie. In die Genesis verhaal lees ons dat God "die Sabbatdag geseën en heilig gemaak het". Die woord "heilig" is qadosh in Hebreeus, en dit beteken uniek, spesiaal of ongewoon.

 

Die Sabbat is 'n dag van ongewone goedheid. Van wat die Hebreërs shalom genoem het. Dit is 'n nasmaak van Eden – 'n tyd toe alles was soos dit bedoel was om te wees. En dit is 'n voorsmaak van die ewigheid, van die "nuwe hemel en nuwe aarde" – 'n dag van afwagting om in te tree in ons heerlike toekoms as die volk van God, 'n nuwe gemeenskap, wat om 'n tafel sit om saam met koning Jesus fees te vier, in 'n wêreld wat vrygemaak is van die vloek en nuut gemaak is onder sy goeie heerskappy.

 

Dit is 'n dag wat afgesonder is.

Om te stop.

Om te rus.

Om jou te verlustig.

En om te aanbid.

 

Sabbat is die beste dag van die week; die dag waarna ons Donderdag, Vrydag en Saterdag uitsien, maar ook die dag wat ons Maandag, Dinsdag en Woensdag onthou. Sabbat is die anker van ons week en van ons hele lewe saam met God asook die fondament van ons gemeenskap. Daarom is dit op dag sewe, nie op dag drie of vier nie. Dit is nie 'n "breek" van ons besige lewens nie; dit is die doel van ons lewens. Op die Sabbat beleef ons die ewigheid in ʼn vasgestelde tyd.

 

Die Sabbat is heilig. In die Tien Gebooie word ons beveel om die Sabbatdag te onthou deur dit heilig te hou. Dit is dus (reeds) heilig, maar ons moet dit ook aktief heilig hou.

 

Om in die Sabbatlose kultuur van die Weste te leef, is die versoeking altyd om Sabbat te ontheilig, om dit soos net nog 'n dag te behandel, om dit 'n gesekulariseerde dag te laat word.

Om hierdie rede praat die Jode nie van die "beoefening" van Sabbat nie, maar van die "onderhouding" van Sabbat. Hou dit heilig, spesiaal. 'n Hele dag afgesonder net om met God te rus, in God te verlustig en God te aanbid...”

 

Ek nooi jou om Sondag, ons tradisionele Sabbatdag, saam in die erediens in die skoonheid van die Sabbatdag in te tree. Mag dit ʼn oomblik wees waar jy God in sy heiligheid raakleef en mag God jou help om dit heilig uit te leef.


Groete

Christi

 
 
 

Comments


bottom of page