Sukkel jy ook met gebed?
- Kenridge Gemeente

- Jan 28, 2022
- 2 min read

Het jy al opgemerk wanneer jy na ‘n sportbyeenkoms op televisie kyk, dat sportmanne en vroue hemelwaarts wys of ‘n kruisteken maak om dankie te sê as hulle ‘n drie druk of ‘n rekord breek? In ons leefwêreld bid ons baie. Ons bid aan tafel, wanneer ons opstaan in die oggend, voor ons gaan slaap, voor ons eksamen skryf, voor moeilike besluite, en selfs agter die stuurwiel terwyl ons haastig parkeerplek soek. Ons bid vergaderings en skole oop en toe. Orals bid mense - selfs ongelowiges erken dat hulle bid. So skrywe Stephan Joubert in sy boek - “Gebede wat God altyd verhoor”. Hy sê voorts dat 70% van alle mense op aarde een of ander tyd hulle toevlug tot gebed neem.
Maar wat is gebed vir ons as gelowiges? Dis vir seker meer as net ‘n kniebuiging in die rigting van die Almagtige wanneer ons dankbaar of in die moeilikheid is. Gebed is kommunikasie met die lewende God in die naam van Jesus.
Jesus se dissipels vra in Lukas 11:1 vir Hom om hulle te leer bid. Hulle het Johannes die Doper se dissipels sien bid en Jesus self sien bid. Hulle het besef hoe belangrik dit is om te bid. Maar hulle het self gesukkel om te bid. Toe leer Jesus hulle om die Ons Vader gebed te bid. En daarmee het Jesus vir hulle en vir ons nie-onderhandelbare boustene vir gebed neergelê. Ons leer in die Ons Vader dat gebed in die eerste plek oor God gaan. Oor sy lof en verheerliking. Dit gaan ook oor ons eie daaglikse behoeftes, ons behoefte aan vergifnis en beskerming in versoeking. Ons mág dus ons eie, praktiese, groot en klein alledaagse behoeftes in gebed na die Here bring maar dis nie primêr die inhoud van ons gebede nie.
Gebed is nie ‘n mobiele toepassing (App) op my selfoon waarmee ek by die grootste aanlyn-winkel in die heelal alles kan bestel wat ek wil hê en met my geestelike “eBucks” kan betaal omdat ek die eienaar ken nie. Ons weet dit werk nie so nie maar tog bid ons met ‘n “selfde dag tuis-aflewering” verwagting. Ek het dit gewaag om my vroegoggend-gebed van vandag te ontleed en met ontnugtering agtergekom dat ten spyte van al my teoretiese kennis, dit vandag alweer in hoofsaak net oor myself en my eie behoeftes gegaan het. Ek bid al soveel jare en leer tog so stadig! Daarom sien ek met groot verwagting uit na ons 40 dae reeks oor gebed wat Sondag 6 Februarie afskop. Om te hersien, nuut te leer en te oefen in praktyk.
Kom leer saam met ons in ons eredienste en Connect groepe om te bid - om “beter” te bid.
Gebed
Hemelse Vader - leer ons bid asb. Laat U koninkryk kom en U wil geskied. Asseblief Here.
Amen
Vrede vir jou.
Willem.




Comments