Terme en voorwaardes geld
- bestuurder5
- Aug 7, 2024
- 2 min read

In Matteus 7 so na die einde van die Bergrede se kant toe, leer Jesus vir sy navolgers iets kosbaars oor liefde. Hy het hulle agtereenvolgens opgeskerp oor hoe vals profete lyk, oor luister én doen wat jy hoor, en toe oor die wyse man en die dwaas en twee verskillende fondamente. Jesus was besig om hulle te leer dat mense se dade en hulle gedrag verklap in wie hulle regtig glo.
Max de Pree, ‘n Amerikaanse sakeman en skrywer, het gesê: ‘Beliefs shape practices. If you want to know what you truly believe, you only need to examine your behaviors.’ Matteus 7 en Johannes 14 is deurspek van Jesus se verduidelikings dat as ‘n mens Hom liefhet, jy spontaan aan Hom gehoorsaam sal wees. En andersom is mense wat aan die Here gehoorsaam is, mense wat Hom baie liefhet.
En dan kroon Jesus sy verduidelikings met ‘n illustrasie wat die mense goed sou verstaan. Mense wat dink dat hulle die Here liefhet en nie aan Hom gehoorsaam is nie – is soos iemand wat ‘n huis op die sand bou wat verseker inmekaar gaan tuimel. Aan die ander kant is mense wat Hom liefhet en daarom aan Hom gehoorsaam is, soos slim koninkryksbouers wat hulle huise op rotse bou. Sulke huise sal nooit intuimel nie.
Jesus se liefde is onvoorwaardelik vir alle mense. Maar die terme en voorwaardes van ons reaksie op sy liefde en sy verlossing is dat ons nie net sy woorde moet hoor nie maar dit ook moet beliggaam en uitleef.
En dat ons, soos wat Henri Nouwen waarsku, sal waak daarteen …..
1. om gewild te probeer wees,
2. om indrukwekkend te probeer wees en
3. om magtig te probeer wees.
Een van die klemme van week 4 in die Connectreeks vir Uitreikkwartaal is juis dat gelowiges se vertikale liefdesdimensie vir die Here met ‘n ewe belangrike horisontale liefdesdimensie vir ander mense momentum sal gee aan Jesus se koninkryk hier op die aarde.
Die Een wat regtig groot, indrukwekkend en die Pasaangeër in die lewens van gelowiges moet wees, is Niemand anders nie as die Here Jesus Christus Homself. Gelowiges wat regtig wys is, is gelowiges wat Jesus se woorde hoor en dit doen!
Gebed:
Here open elke oor
om U woorde te hoor,
in sagte harte te stoor,
om dit nooit te verloor
en so die aarde te bekoor.
Amen.




Comments