Vadersdag
- bestuurder5
- Jun 14, 2024
- 3 min read

Eerskomende Sondag word “Vadersdag” byna wêreldwyd gevier, en in Suid-Afrika ook “Jeugdag”. Om oor albei hierdie aspekte sinvol te gesels in dieselfde gespreksruimte is nie heeltemal só eenvoudig nie.
Toe ek Dinsdagoggend na Christi se gedagtes vir sy preekboodskap vir hierdie Sondag luister, het ek gehoor dat hy op ‘n goeie en betekenisvolle wyse met hierdie uitdaging omgaan. Ek is opgewonde om te hoor wat die Gees van Christus deur Christi Sondag aan ons elkeen wil oordra. Kom luister asseblief saam!
Oor Vadersdag het ek onlangs die volgende raakgelees:
· Vadersdag word in 111 lande regoor die wêreld gevier – byna altyd op die 3de Sondag van Junie. Dis net in Australië waar dit in September, en in Noorweë, Swede en Finland waar dit in November gevier word.
· Op Vadersdag word die rol, invloed en bydraes van vaders en vaderfigure erken en gevier. Vaders is by implikasie verbind aan ander deur verhoudings – ‘n Pa het altyd self ook ‘n Pa en meestal twee Oupa’s. En ‘n Pa is vanselfsprekend die Pa van ‘n kind of kinders. En dalk die Oupa van sy kleinkinders, en as hy lank genoeg sou lewe ook die Oupa-grootjie van sy agter-kleinkinders.
Vaders (of Pa’s) is dus in ‘n veelheid van verhoudings verbind wat invloede op hulle uitoefen, en waarin hy op sý beurt ook weer invloede uitoefen in ander se lewens. Om as ‘n Vader erken te word op Vadersdag is dus ‘n onuitspreeklike voorreg, en terselfdertyd ‘n wesenlike verantwoordelikheid.
· Vadersdag herinner ‘n mens nie net aan aardse vaders, en geskenke vir Pa’s soos sokkies, of biltong en droëwors, of die nuutste uitgawe van die CAR, of BICYCLING, of SA JAGTER, of TIME, of FINANCIAL MAIL nie.
Dit laat veel eerder die kollig val op die kosbaarheid en wederkerigheid van verhoudings – spesifiek dié tussen Jesus Christus, as die Seun van God, en sy hemelse Vader. Wanneer ‘n mens die diepte en innigheid en werklikheid van hierdie verhouding wil begin verstaan, behoort jy Joh.17 ‘n paar keer nadenkend deur te lees.
Dit beskryf ‘n verhouding van vertroue, liefde, lojaliteit, erkenning en dankbaarheid en vreugde, en ook afhanklikheid en innige nabyheid. ‘n Verhouding van eenheid en eensgesindheid.
· Daar is só baie wat oor Vadersdag geskryf kan word – verskoon my as ek met enkele aanhalings oor Pa’s afsluit:
John Ruskin (1819-1900) skryf: “Dwarsdeur ‘n man se lewe bly een van die oriëntasiepunte en vormende invloede in sy lewe dáárdie oomblik toe hy vir die eerste keer sy Pa se oë op hom gevoel het. Dieselfde invloed geld ongelukkig ook indien die kind nóóit daardie trots gesien het nie.”
Pa’s, sê en wys vir jou kinders dat jy trots is op hulle. Hulle hoef nie te gewen het, of die slimste of mooiste te gewees het nie. Hulle is aan jóu gegee as ‘n geskenk uit die hand van ons goeie God. Wees lief vir hulle, en trots op hulle. En sê en wys dit báie vir hulle.
· Austin L Sörenson skryf: “’n Kind sal beswaarlik God as sy Vader ervaar, as hy (of sy) nie iets van God in sy/haar vader beleef nie.”
· En dan – Marisol Santiago skryf: “A dad is a son’s first hero, and a daughter’s first love.”
Geniet en vier Vadersdag hierdie jaar met vreugde en dankbaarheid!




Comments