Vadersdag: Mentor-pa’s
- Kenridge Gemeente

- Jun 15, 2022
- 3 min read

Ons vier Sondag Vadersdag en dit is gewoonlik die dag waarop ons pa’s, as 'n geskenk aan ons kinders, vier. Vir die kinders wat saam met hul biologiese pa in die huis woon, is dit voorwaar ʼn geskenk, want in die groter prentjie van Suid-Afrika is omtrent net ʼn derde van kinders in hierdie bevoorregte posisie.
Pappas is van soveel belang vir ʼn kind se ontwikkeling omdat ʼn pappa vir alle praktiese doeleindes ʼn kind se eerste mentor is. Wat bedoel ons met ʼn mentor? In die sosiale en ekonomiese wetenskappe leer ons dat ʼn mentor gewoonlik iemand is wat ouer is of meer ervaring het en uit daardie ervaring saam met iemand jonger of met minder ervaring ʼn pad stap om karakter, vaardighede, ingesteldhede en gedrag te ontwikkel. ʼn Mentor doen dit ook hoofsaaklik deur voorbeeld, inspirasie en leiding asook emosionele aanmoediging en ondersteuning. Mentorskap gebeur gewoonlik binne ʼn vertrouensverhouding waar die mentor vir die mentee toegang gee tot hulpbronne wat groei en ontwikkeling stimuleer – of dit nou fisiese of menslike hulpbronne, kennis of ervaring is.
In hierdie beskrywing kan ons baie maklik die woorde mentor en pappa met mekaar uitruil, of hoé?
Een van die bekendste tekste in die Bybel oor ouerskap is Deuteronomium 6:4-9 is en dis juis die pa’s wat primêr aangespreek word wanneer Moses sê:
“Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.
Hierdie gebooie wat ek jou vandag gegee het, moet in jou gedagtes bly. Jy moet dit inskerp by jou kinders en met hulle daaroor praat as jy in jou huis is en as jy op pad is, as jy gaan slaap en as jy opstaan. Jy moet dit as herinneringsteken vasbind aan jou hande, en dit moet 'n merk op jou voorkop wees."
Op Vadersdag wil ons spesiaal dankie sê vir pa’s wat hierdie rol inneem en ons kinders so begelei om ons Hemelse Vader daardeur te leer ken.
As ʼn pa weet ek ook baie goed dat ek baie tekortkominge het. Ek wil jou daarom uitnooi om saam met my aan die volgende 3 dinge aandag te gee.
Ek weet dat ek ʼn beter pa is wanneer ek ʼn beter dissipel is. Om onder leiding van ons Hemelse Vader te leef help my om ʼn beter pa vir my kinders te wees. Dit beteken dus om my lewe daagliks rigting te gee deur agter God aan te loop in my doen en praat deur die Bybel te lees en vir God se wil te vra in gebed, eerder as my eie planne.
Ek vra dan ook gereeld vir myself “Watter storie van God leer my kinders uit my voorbeeld?” Soms kan ek nie daardie vraag antwoord nie. Soms is daardie antwoord dat God te besig is met “belangriker dinge” in die wêreld as vir my. Soms is die antwoord dat God baie hou van drukkies gee. Ek streef daarna dat die laaste of soortgelyke antwoorde die standaard sal word.
Om die termostaat van my huis te wees eerder as die termometer. ʼn Termometer-pa meet almal se temperatuur op grond van hoe goed of sleg hulle doen, deur ʼn stel reëls wat die pa gewoonlik alleen opstel. ʼn Termostaat-pa skep ʼn atmosfeer waar elkeen in die huis kan groei en floreer. Termostaat-pa’s kan luister na die kinders se stories en belangstellings. ʼn Termostaat-pa is teenwoordig en nie altyd besig met werk of ʼn foon nie. ʼn Termostaat-pa lees saam stories, bou saam Lego, skop saam bal, leer ballet en die woorde van One Direction of Taylor Swift liedjies.
Dankie vir elke pa wat ʼn geskenk vir hul kinders is. Dankie vir elke pa wat ons Hemelse Vader se liefde reflekteer. Mag die seën wat jy so vir jou kinders bring, tot seën wees vir die hele wêreld.
Groete
Christi




Comments