Verband Verbind Verbond
- Kenridge Gemeente

- Aug 12, 2022
- 2 min read

Ons herinner mekaar gereeld daaraan dat ons in ʼn verhouding met God leef, maar verhouding kan baie betekenisse hê. Ons kan in ʼn goeie of slegte verhouding leef, of ʼn aktiewe verhouding of ʼn veraf verhouding of ʼn gebroke verhouding. Ons lees ook nêrens in die Bybel van ʼn “verhouding met God” nie – hoewel dit bedoel word. Die woord wat ons kry is verbond. Hoe is verbond anders as bloot “verhouding”? Hier waar jy nou lees, sit jou handpalms teen mekaar met jou vingers na bo, soos iemand wat bid. Dis ʼn prentjie van verhouding. Dis naby en selfs teenaan, maar dis nie noodwendig sterk nie. Vou nou jou vingers tussen mekaar in, met jou vingerpunte wat afkrul oor die agterkant van jou hand. Dis ʼn prentjie van verbond. Dis verstrengel. Dis oor en deur mekaar. Dis sterk. Dis wat God met ons doen. God kom nie net naby nie. God verstrengel homself met ons. Hy maak ons om soos hy te wees: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers...” (Gen. 1:26) Hy gee sy asem om vir ons lewe te gee: “...die Here God (het) die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword.” (Gen. 2:7) Hy maak homself deel van ons en ons nageslag se storie: “Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou.” (Gen. 17:7) Deur Jesus maak hy ons een met homself: “Heilige Vader, bewaar hulle wat U aan My gegee het in u Naam, sodat hulle, net soos Ons, een kan wees.” (Joh. 17:11) Sodat hy in ons harte mag woon en ons in hom gewortel kan wees: “sodat Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is” (Ef. 3:17) Die verbond is ook ʼn verband wat ons verbind. Dis God wat nie net sy lewe met ons verstrengel nie, maar wat ons heel maak. God se verbond is om met ons die pad te stap sodat ons die mense kan wees wat Hy in gedagte gehad het met die skepping. Daarom dat Jesus in ons stukkende wêreld kom inklim het. Dis Jesus se werk wat die beloftes wat God gemaak het, kom bewaarheid. Dis Jesus wat ons wonde verbind met ʼn verband van genade. Dis die Gees wat ons stukkende verhoudings herstel. Dis die verbond van liefde wat ons weer verbind aan almal wat van mekaar verwyderd is, sodat ons weer in verband met mekaar kan lewe. Dis Jesus se bloed wat oor en deur ons vloei. Dis God se asem – die Gees waarin ons leef en beweeg en bestaan. Verbond is veel meer as verhouding en God het ʼn verbond met jou gesluit toe jy gedoop is – Ek sal jou God wees, niks en niemand kan jou uit My hand ruk nie. Niks kan jou skei van my liefde nie. As jou hande nog gevou is, met jou vingers verstrengel met mekaar, dank die Here vir sy verbond. Groete Christi




Comments