top of page

Voorreg van gemeente wees


ree

Op ‘n stadium tydens hierdie jaar se Hemelvaartdiens, het ek oor die gemeente gekyk en is ek getref deur hoeveel mense op daardie betrokke Donderdagaand die erediens bygewoon het. Dit was die meeste mense wat ek nóg in ons gemeente by Hemelvaart gesien het en die pizza-slices wat voor die tyd te koop aangebied is, is vroeg reeds opgeraap. Die daaropvolgende Pinksterdienste is ook baie goed bygewoon en elke aand is die kerrie-en-rys wat aangebied is, ook uitverkoop.


Neem dan ook in ag dat ons elke jaar ‘n uitreik na Zithulele kan stuur, dat ons week-van-oorvloed-insameling ‘n oorvloed van komberse, sokkies en kos opgelewer het, dat ons Alpha huwelikskursus feitlik elke jaar vol bespreek is, dat die Manne-aand se kaartjies binne twee weke uitverkoop is, dat die Familiedienste amper elke keer tot oorlopens toe vol is… Ek sou nog voorbeelde kon noem: voorbeelde van vrywilligers wat hul tyd gee om met kinders ‘n pad te loop, voorbeelde van hande wat gegee word om klein n groot takies te verrig, voorbeelde van musikante wat tyd maak om te kom oefen sodat die gemeente kan deelneem aan lof en aanbidding, voorbeelde van lidmate wat gaan verf, gaan bou, kom help en kom gee.


Die prentjie wat mens kry is een van ‘n baie betrokke gemeente met oop harte en oop hande.


En dít is ‘n reusagtige groot voorreg.


Ons gemeente is kosbaar. Dit is kosbaar vir ons elkeen omdat dit ‘n belangrike, rigtingewende rol in ons lewens speel. Dit is kosbaar vir ons omdat dit ons geestelike tuiste is en omdat dit ‘n plek is, waar ons kan kom dien. Dit is kosbaar vir ons omdat dit vir ons ‘n geleentheid gee om ‘n verskil in ons stad te maak en om ander se lewens beter te maak.


Maar ons gemeente is ook kosbaar vir die Here. Efesiërs 3 verduidelik vir ons dat die Here het van die begin af ‘n plan met die kerk en met gemeentes gehad. Daar staan in verse 10 en 11: “10 Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God 11 se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring.” - Efesiërs 3 (NLV)


So wanneer ons deelneem aan ons gemeente en wanneer ons betrokke is, is dit beslis nie net om onsself op te bou en geestelik te verryk nie. Deur die gemeente word ons deel van God se plan vir hierdie wêreld; die plan wat Hy deur Jesus Christus tot uitvoering bring. As mens só daaraan dink, dan word die voorreg om deel te wees van ‘n gemeente nog groter.


Die gemeente is ook kosbaar vir die Here omdat dit die manier is waarop Hy mense deelmaak van Jesus se familie. Eintlik stel die Bybel dit bietjie sterker, want Efesiërs 1:22-23 sê ons word deel van sy liggaam: “22 God het alle dinge onder sy (Jesus) beheer gestel en Hom ook as Hoof van alles aan die kerk gegee. 23 Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in elke opsig met sy teenwoordigheid vul.” - Efesiërs 1 (NLV)


God plaas ons dus in ‘n gemeente sodat ons deel van Hom en deel van mekaar kan wees. Miskien is dít die rede hoekom ons gemeente dit so baie geniet om saam te kuier: dit is eenvoudig lekker en vervullend om deel te wees van Jesus se familie.

Mag jy voortgaan om ‘n betrokke en toegwyde lidmaat van Kenridge Gemeente te wees in die wete dat dit God is wat jou hier geplaas het met ‘n doel. Mag jy onthou dat niks in hierdie lewe perfek is nie – ons sal eers perfektheid beleef nadat God alles nuut kom maak het. Maar intussen, kan jy help skaaf aan die imperfeksies in ons gemeente. En mag jy beleef dat jou bydrae tot ons gemeente kosbaar is.

 
 
 

Comments


bottom of page