top of page

Vriend of Vyand


ree

Het jy al ooit gehoor van die musiekblyspel Wicked deur Winnie Holzman? Dit was 'n groot storie toe dit die eerste keer in 2003 verskyn het. Die musiekblyspel het verskeie toekennings gewen en verskeie sangers en akteurs, het deur hierdie produksie, bekende name geword. Waarom was dit so gewild? Behalwe vir die wonderlike musiek en uitstekende toneelspel, het Wicked die verhaal van die bekende Wizard of Oz fliek geneem en iets onverwags daarmee gedoen.


In Wicked word die bekende verhaal van Dorothy, die lafhartige leeu, die voëlverskrikker en die blik-man oorvertel vanuit die perspektief van Elphaba, die heks van die Weste. So die hele storie word uit die perspektief van die “bad guy” vertel. In hierdie verhaal, leer ons Elphaba se hartseer agtergrond ken, die kompetisie en rusie met haar suster (Glinda die goeie heks), en hoe sy dalk nie die eendimensionele skurk is wat ons altyd gedink het sy is nie.


Hierdie musiekblyspel bied vir ons 'n Elphaba wat 'n tragiese figuur is, en wat die kyker laat besef dat sy dalk eerder misverstaan word as wat sy boos is. Dit wys ook vir ons dat wanneer jy iemand se verhaal leer ken, dit moontlik kan verander hoe jy oor daardie persoon dink en in watter lig jy hulle sien.


Ons kultuur moedig ons aan om almal wat ons ontmoet in twee kategorieë in te deel: "goeies" en "slegtes". Ons is gewoond daaraan om vir die helde te juig en vir die skurke te grom. Maar dit is nie die regte lewe nie, is dit? Die regte lewe is baie meer kompleks as dit. Almal wat ons ken, is volledig gevormde, komplekse en interessante skeppings van God.


Niemand waarmee ons te doen kry in die lewe is net goed of net sleg nie. Om mense se verhale te leer ken, help ons om dít raak te sien. Dit breek ons vooroordele en vooropgestelde idees af. Dit bevry ons daarvan om ander as “kartonuitknipsels” te sien, en eerder as werklike mense wat deur God geskep is. En, net soos Elphaba, as ons iemand anders se verhaal leer ken, help dit ons om hulle in ‘n heel ander lig te sien.


Wanneer jy Jesus volg, hou die ou kategorieë "goeies" en "slegtes" op om vir jou te werk. Jy besef dat nie net almal 'n verhaal het nie, maar ook dat God wil hê dat ons hulle ook moet liefhê: maak nie saak wat nie. Dit kan nogal intimiderend wees, maar daarom leer ons mense se verhale ken. Dit maak die “vreemde” mense wat God wil hê ons moet liefhê, baie minder vreemd en maak ons vry om daadwerklik uit te reik na hulle waar hulle is.


Dalk is ‘n eenvoudige plek om te begin in jou onmiddellike omgewing. Ken jy jou bure of die kwaai tannie af in die straat wat kla oor alles, se verhale? Dalk kan ons soos Wicked, verras word deur wie hulle is, en op nuwe maniere dit regkry om Jesus se liefde ook aan hulle te bewys.


Groete

Johan

Comments


bottom of page