Wat is daar wat jy nie ontvang het nie?
- bestuurder5
- Jun 23, 2023
- 2 min read

Dít is die konfronterende vraag wat Paulus aan die gelowiges in die gemeente van Korinte stel vroeg in sy eerste brief aan hulle. Toe ek die gedeelte onlangs lees, het hierdie sinnetjie my diep laat nadink.
Jou lewe? Dié het God aan jou gegee.
Jou geloof, en die vaste sekerheid dat God jou liefhet en vir jou sorg? Het jy dit verdien deur ‘n bo-gemiddeld-toegewyde lewe, deur byna-sondeloos altyd die regte keuses te maak? God het dit aan jou gegee ten spyte van wie jy was, of is. Geloof is in jou geplant, dit het ontkiem en gegroei, en het deel van jou identiteit geword. Jou vertroue in God se getrouheid en liefde het gegroei, omdat dit die Gees van God is wat in jou woon om God se werk in jou te doen. Dis alles genade – ‘n geskenk – verniet.
Jou besittings en suksesse? Daarvoor het God aan jou geleenthede en vermoëns en lewenskrag gegee. Jy sê jy het darem regtig hard gewerk! Jouself afgesloof en met wysheid en oordeel gekom waar jy is? Is dit nie dalk net genade dat jý die moontlikhede gekry het om dít alles te kon doen nie? Dat jy wél ‘n werk het, en goeie oordeel aan die dag kan lê, terwyl daar baie rondom jou is wat nié ‘n werk kan kry, of nié oor die vermoë beskik om verantwoordelik op te tree of goed te oordeel nie?
Die mense wat die lewe vir jou mooi maak? Jou geliefde, jou kinders, kleinkinders, familie, kosbare vriende? Gód het jou in hierdie ruimtes geplaas en laat grootword, en kinders en vriende aan jou gegee om jou te vorm en jou lewe ryk en vol te maak.
‘n Mens sou Paulus se vraag met betrekking tot ál die fasette van jou hele lewe kon vra totdat jy al die terreine van jou lewe deursoek het. Waarskynlik gaan jy tot die slotsom kom: Ek het álles ontvang waaroor ek beskik.
Dalk kan ek en jy dan eerder begin sê: Ek bemin, en het lief, omdat ek bemin ís. Ek gee, omdat ek ontvang hét. Ek leef dankbaar, en eg, omdat ek raakgesien het – my God se genade is vir my genoeg. My God is vir my genoeg.
Ek is leeg, en tog tel ek my seëninge – so een-vir-een - elke dag.
En toe ek dít begin doen, kon ek nie ophou nie. En kon ek begin om te deel – dit wat ek hét, en wié ek ís. Want daar is regtig níks wat ek nie genadiglik ontvang het nie.
Het jy al begin teL? Dalk moet jy kyk wat met jou gebeur wanneer jy tel wat daar in jou lewe is wat jy nié ontvang het nie.
Geniet die vakansie as jy bevoorreg is om dalk te ontspan. Rus met dankbaarheid.
En as jy (steeds) moet voortgaan – leef met oorgawe. Ook dít is ‘n gawe wat God aan jou gee – ónverdiend.




Comments