top of page

Waterputte

ree

Daar is ʼn storie van ʼn jong man uit Engeland wat in die Australiese Outback gaan kuier het. Soos hy saam met ʼn ou boer uit die omgewing gery het, wys die boer vir hom die ander boere uit die kontrei se plase. Die jong man het gesukkel om in te sien waar een boer se plaas nou eindig en ʼn ander weer begin, want so ver as wat hy kon sien was daar geen heinings tussen die plase nie. Hy het immers groot geword in Engeland waar plase sommer klipmure het as heinings en waar hulle met die spreekwoord ‘Good fences make good neighbors’ leef.

Die jong man het gevra hoe die ou boer dan nou weet hoe die grenslyne loop en hoe almal anders daarby sou hou? Die ou boer reageer met ʼn lekker lag in sy swaar Australiese aksent “Sonny, out here we don’t put up fences, we dig wells.”

Hy verduidelik toe aan die jong man dat die Outback so groot en droog is dat water die diere naby hou en dat daar min gevaar bestaan dat een boer se diere na ʼn ander se plaas sal loop nie en daarmee saam steur geen roofdier hulle in elk geval aan heinings nie, of hoe?

Die Missioloog, Alan Hirsch vertel hierdie storie ter illustrasie van sosiale stelsels. Ons kry geslote stelsels, wat soos plase met heinings is. So stelsel het ʼn sagte middel, wat basies beteken dat die visie en roeping van die stelsel nie so sterk is nie, maar dit het harde grense. Dis baie duidelik wie is in en wie is uit in hierdie stelsel. Daar is ʼn baie duidelike ons vs. hulle dinamiek.

Aan die ander kant verduidelik Alan Hirsch dat ʼn oop stelsel soos die Outback plase met putte is. So ʼn stelsel het ʼn ferm middel, m.a.w. ʼn baie sterk visie, roeping en waardes. In ʼn oop stelsel is daar sagte grense en is minder duidelik wie is in en wie is uit. Enige iemand wat saamwerk ter wille van die visie en roeping en die waardes uitleef, kan deel wees van die stelsel.

Wanneer ons na die Jesus-verhale in die Bybel kyk, lyk dit asof Jesus na die oop stelsel geleun het. Die visie en roeping vir Jesus is “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Die tweede, ewe belangrike opdrag is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” (Matt 22:37,39) Die waardes is geloof (Joh. 3:16), gehoorsaamheid (Joh. 14:15) en liefde (Joh. 13:34-35).

Jesus noem juis sy boodskap lewende water, water wat vir mense lewe gee (Joh. 4:10). Jesus en sy boodskap is soos ʼn put in die Outback. Dit trek mense in en nader, maak nie saak van waar af hulle kom nie. Hy verduidelik dan verder dat mense wat diep drink van hierdie lewende water, word dan self soos ʼn fontein waaruit die water opborrel sonder ophou.

Dis Jesus se droom vir sy dissipels, sy kerk – dat ons mense sal wees uit wie die lewende water opborrel, sodat almal wat dors het daarvan kan drink. Wit mense, swart mense, professionele mense, bloukraag werkers, werklose mense. Ook naby mense en ver mense en immigrante.

Hierdie uitreikkwartaal se Connect reeks Irresistible (van Andy Stanley) wil ons uitdaag oor die maniere waarop gelowiges en kerke beweeg het om geslote stelsels te word. Dit wil ons help om mooi te kyk na Jesus se werk en die bedoeling van sy werk, sodat ons die leidrade daarin kan vind om hier in die gemeenskap waar ons gemeente lewe ʼn oop stelsel te wees, waar mense van die lewende water van Jesus kan kom drink.     

 
 
 

Comments


bottom of page