top of page

Wees bly al gaan dit sleg


ree

Dit gaan maar treurig in die wêreld vandag. Die nuus van brande, oorstromings en aardbewings is ontstellend. Verder sterf soveel mense wêreldwyd in konvensionele- en misdaadoorloë. Dis so algemeen dat ons al amper immuun raak teen slegte nuus. Die oorlog tussen Rusland en Oekraïne het ons aanvanklik baie ontstel maar na 'n jaar het ons soort van afgestomp geraak vir die statistiek en die ontstellende beeldmateriaal. Nou het die oorlog tussen Israel en Hamas ons van nuuts af ontstel. Die verloop en gevolge hiervan is onvoorspelbaar en onberekenbaar. Op eie werf in Suid-Afrika en soms ook ons eie lewens is daar ook maar moeilike dinge wat ons hoop en vreugde steel. Intussen sê die Bybel op 'n paar plekke - "wees bly al gaan dit sleg!"


Een plek in die Bybel waar ons hierdie opdrag lees, is in Jakobus. Jakobus skryf hierdie brief aan gelowiges wat ontwortel en vlugtelinge in vreemde lande was. Hy skryf in Jak 1:2 - " 2My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom..." Hierdie is 'n moeilike opdrag! Hoe op aarde kry mens dit reg?


Ons moet mooi hoor wat Jakobus bedoel. Hy sê nie ons moet bly wees oor die beproewing self nie. Ons moet bly wees oor die gevolg wat beproewing kan hê. Jakobus sê in Jak 1:3-4 - "3want, soos julle weet, as julle geloof die toets deurstaan het, stel dit julle in staat om te volhard. 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming."


Mens kan in beproewing moedeloos in ’n bondeltjie gaan sit en wens dat dit net sal verbygaan. Jy kan kwaad raak vir die Here wat sulke wrede dinge oor 'n mens bring of toelaat dat dit gebeur. Of jy kan ontvlug in ontkenning en jou oorgee aan dinge wat jou plesier verskaf en die pyn kan verdoof. Jakobus se raad is egter: ons moet bid - "5As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”


Blydskap te midde van swaarkry kom nie vanself nie. Ons moet eers vra vir wysheid om dieper te sien en dan is blydskap die gevolg van die insig wat wysheid bring. En ons moet onthou - God gee wysheid sonder voorbehoud en sonder verwyt. Die enigste vereiste is gelowige gebed.

 
 
 

Comments


bottom of page