Wilde Geloof
- Kenridge Gemeente

- Sep 23, 2022
- 3 min read

Ek was nou die dag weer besig met ʼn internet soektog toe ek op die baie bekende foto van Beyers Naudé wat met sy drie-stuk pak en toga, asook sy Bybel onder die arm tussen polisie Caspirs deurloop in Sharpeville. Onwillekeurig kom die vraag by my op “Wanneer laas was ek in gevaar oor die manier hoe ek my geloof uitleef?” en die noodwendige antwoord: “Nog nooit.”
Die oorsprong van my internet soektog was om te probeer uitvind waar Desmond Tutu die eerste keer ubuntu gebruik het om gelowiges se verhouding met hul medemens te beskryf. Ek kon nie die presiese geleentheid kry nie, maar hy het gereeld tydens protesaksies en in preke, wanneer hy kritiek teenoor Apartheid uitgespreek het, en tydens die sittings van die Waarheids- en Versoeningskomissie hierdie term gebruik.
Ek sit met die stryd in my dat baie mense, en veral jongmense, hul geloof verloor en totaal apaties raak teenoor geloof in Jesus omdat ons uitdrukkings van geloof in die kerk oor die laaste paar jaar vervelig geword het - en ekself het ʼn reuse aandeel daarin. Ons het geloof verskraal na sit-en-luister, of staan-en-sing, of sit-en-gesels en miskien gee-vir-insamelings.
Alan Hirsch het so tien jaar terug die boek Untamed geskryf, waarin hy verduidelik dat Jesus ʼn “wild Messiah” is, wie se lewe bestaan het uit meer as net preek en stories vertel. Hy het groot geword in ʼn blou-kraag wêreld en hy het as skrynwerker-bouer gewerk eerder as om Kweekskool toe te gaan. Hy het saam met sy dissipels visgevang, voetgeslaan en gekamp en die lewe van die Romeine en die geloofstradisie moeilik gemaak met die boodskap van verlossing.
John Eldredge het hom beskryf in sy boek as ʼn “Beautiful Outlaw” wat die wet en orde versteur het met sy stories en lering, wat die sosiale orde versteur het deur mense te ontvang wat letterlik na die buite dorp verban is, wat tyd spandeer het met diegene wat nie “onse mense” is nie. In “Waking the Dead” verduidelik hy dat Jesus juis mense se harte lewend gemaak het en dat dit sy dissipels oor eeue genoop het om op gevaarlike plekke mense lief te hê.
Ek lees nou ʼn boek van Erwin McManus, The Way of the Warrior, waarin hy uitlig dat God ʼn kryger is, wat baklei vir die onderdruktes en benadeeldes. God se verbond met mense maak dat God nog altyd geveg het om sy beloftes na te kom – teen nasies soos Egipte, teen sy volk se leiers, soos Saul en Agab. God as warrior het selfs kom veg teen die dood, deur onbeskryflike geweld in sy eie liggaam te absorbeer en te veg dat die dood nie die laaste sê het nie.
Ek vermoed dat geloof in Jesus nogal ʼn avontuur kan word wanneer ons as gelowiges saam met Jesus begin veg vir mense se verlossing van armoede, in plaas daarvan om dit oor te laat aan ander, soos die regering of maatskaplike werkers. Ek reken dat wanneer ons as gelowiges ons liggame in die pad van onreg plaas, soos Desmond Tutu en Beyers Naudé, en in die geveg klim vir mense se lewens, soos Moeder Teresa, dat blindes sal sien, dat onderdruktes bevry sal word, en dat die tyd van die Here se goedheid sal kom (Jes. 61:1-2, Luk. 4:18-19). Dan gaan geloof nogal opwindend en alles behalwe vervelig wees.
Volgens McManus roep Jesus ons op om deel te word van die geveg. Die eerste geveg is die een binne onsself – die vooropgestelde idees oor Jesus en geloof wat ons bring by die slotsom dat ons net “nice” mense moet wees en opdaag vir kerk. Dit dwing ons om uit ons gerieflike sitplekke te kom en te gaan na die plekke en mense waar Jesus heen sou gaan.
Oor die volgende paar weke is daar ʼn paar maklike geleenthede om dit in te oefen:
24 September, die speletjies dag saam met ons vennote van God’s Merciful Hands Ministries
16 Oktober braai vir Huis Ravenzicht.
Die tienerbediening se vierde kwartaal tema is “Wilde Geloof” wat ʼn paar avontuur aktiwiteite sal insluit, met ʼn Desember staptoer as hoogtepunt. Ouers se hulp, bydraes en deelname sal by al hierdie aktiwiteite baie welkom wees.
Groete Christi




Comments