top of page

ASAP

My rekenaar maak so ’n snaakse geluid wanneer dit ’n nuwe e-pos aflaai. Dit klink amper soos ’n deurklokkie wat bietjie te veel onder die Kaapse winterreën gely het. Ek moet dit seker verander, maar die probleem is tyd! Want baie van die e-posse wat met hierdie wanklank aangekondig word, bevat die byvoegsel: ASAP. AS SOON AS POSSIBLE!


In die lewe is daar baie stemme wat AS SOON AS POSSIBLE op jou aandag aandring. Dit is rekeninge wat jy moet betaal, lisensies wat hernu moet word, korrespondensie wat beantwoord moet word en opdragte wat uitgevoer moet word. Om nie eers te praat van alles wat by die huis reg gemaak moet word nie en die voertuie wat gediens moet word nie. En wat van die kinders se programme! In ons hase-pas lewens is dit maklik om oorweldig te voel.


Die filosoof, Seneca, het eeue gelede gesê: “If you really want to escape the things that harass you, what you’re needing is not to be in a different place but to be a different person.”


Die waarheid van hierdie aanhaling lê daarin dat ooral waarheen ons gaan, neem ons maar ons moeilikheid saam met ons. Deesdae het daardie “moeilikheid” boonop ’n nuwe naam gekry: selfoon. ’n Selfoon maak dit moontlik vir ons e-posse en al die ASAP-aandringers om ons te agtervolg selfs tot binne-in die wildtuin! Seneca was dus reg: vrede vind mens nie in ’n plek nie, maar in ’n persoon.


Ons vind vrede in die persoon van ons Here Jesus Christus.


Die vrede wat daar vir ons te vinde is in die Here is ’n unieke, onverklaarbare vrede. Dit hang nie af van ons eksterne omstandighede nie, maar dit hang af van God se onuitputbare liefde vir ons. In Filippense 4:7 staan daar: “En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.” Die Boodskap interpreteer hierdie vers vir ons bietjie verder deur dit te vertaal met: “Hierdie wete dat Jesus by jou is, sal keer dat die bekommernisse weer met jou emosies weghardloop of dat jy jou weer van voor af begin bekommer.”


Daarom, wanneer ons onsself voortdurend bewus maak van Jesus se teenwoordigheid by ons, kom daar kalmte vir ons siel. Hoe nader ons aan Hom leef, hoe meer vrede sal ons beleef.


Ek het hierdie week ’n eenvoudige rympie ontdek wat nuwe lig werp op die konsep van ASAP:


There’s work to do, deadlines to meet

You’ve got no time to spare

But as you hurry and scurry

ASAP – Always Say A Prayer


In the midst of family chaos

Quality time is rare

Do your best; let God do the rest

ASAP – Always Say A Prayer


It may seem like your worries

Are more than you can bear

Slow down and take a breather

ASAP – Always Say A Prayer


God knows how stressful life is

He wants to ease our cares

And He’ll respond to all your needs

ASAP – Always Say A Prayer


Mag hierdie kinderlike gediggie jou hierdie week help om die teenwoordigheid van Jesus op meer plekke in jou lewe raak te sien. En mag ASAP voortaan vir jou nuwe betekenis dra.

 
 
 

Comments


bottom of page