top of page

As jy mý wil verstaan, moet jy mý vra, nie jouself nie


‘n Intense woordewisseling tussen twee vriende uit die middel-18de eeu bevat ‘n belangrike lewensles vir elkeen van ons. Die gerespekteerde en gewaardeerde Prof Dirkie Smit van die Departement Sistematiese Teologie op Stellenbosch verwys in een van sy boeke na hierdie insident. Johann Georg Hamann, ‘n Duitse filosoof, skryf aan sy vriend en een van die grootste denkers van daardie tyd, Immanuel Kant, die volgende woorde: “As jy mý wil verstaan, moet jy mý vra, nie jouself nie.” Hamann reageer heftig op Kant se manier waarop hy vol intellektuele arrogansie beweer dat hy presies weet wie die ander is, watter invloede hulle lewens bepaal, hoe hulle dink, en hoe daar op hulle reageer moet word. Hamann lewer snydende kommentaar op sy vriend wat volgens hom met mense omgaan asof hulle lewens deursigtig en volledig kenbaar en voorspelbaar is. Hamann se woorde sou net so goed op my en jou van toepassing kon wees. Want dink ons nie alte dikwels dat ons ‘die ander’ – jou lewensmaat, jou kinders, vriende, kollega – só goed ken en opgesom het dat ek by voorbaat wéét hoe hulle dink en voel, of wat hulle gaan sê, of hoe hulle sal optree nie? Asof ‘die ander’ so voorspelbaar geraak het dat sy/haar stem nie langer werd is om gehoor te word nie. Hamann se kritiek op sy vriend is eintlik heel ironies, so skryf Prof Dirkie. Want Kant het juis verklaar dat ons nooit dinge ken soos hulle in hulleself werklik is nie. Al wat vir ons bekend is, is óns perspektief op hulle. Kant het juis beklemtoon – die werklikheid van dit voor my – of die mens voor my – is altyd méér as wat ek kan verstaan. My eie waarneming en perspektief bly dus altyd gebrekkig – onvolmaak. Dalk wou Hamann opnuut sy vriend daaraan herinner dat – wanneer dit om mense gaan – elke mens sy/haar eie geheimenisse en misterie dra. Dat ek en jy baie dieper en beter, en langer behoort te luister om te hóór wat ‘die ander’ bekendmaak. As jy dit nié doen nie, of té vinnig wil luister en oordeel, loop jy dalk ‘n waardevolle ontmoeting of lewensverrykende perspektief mis. Hierdie interaksie tussen twee vriende het my nogals laat nadink. Met watter oë kyk ek en jy na die ander in ons lewe? En met hoeveel openheid en respek en verwagting, en selfs verwondering, is ons bereid om na die ander te luister? Vra ons genoeg vir die ander om hom- of haarself bekend te maak, of is ek té haastig daarvoor? Omdat ek dalk dink dat ek reeds alles weet? Dalk het ons ‘n vriend soos Johann Hamann nodig om ons soms terug te bring na die werklikheid van ‘n ontmoeting tussen medemense. Waar ons as mens-tot-mens die waardigheid ervaar én toeken wat ons aan mekaar verskuldig is. Ons gesels dalk later verder hieroor. Groete vir eers. Jurie

9 views

Recent Posts

See All
bottom of page