Is jy 'n profeet?
- bestuurder5
- Nov 6
- 3 min read

Henri Nouwen vertel in een van sy refleksies dat iemand hom die volgende vraag gevra het:“Waarom hou jy aan om profeties te praat as niemand luister nie?”
Hy antwoord toe so op die vraag: “Ek profeteer nie net om die wêreld te verander nie, maar om te keer dat die wêreld my verander.”
Wat ‘n kragtige antwoord? ‘n Profeet is nie net iemand wat die roeping het om ‘n boodskap uit te dra nie, maar sélf ook deur die boodskap verander word. Hoe verander jou geloof, jou oortuigings, jou gawes jóú – nie net vir ander nie? Verder is dit ook belangrik om die volgende uit te lig en te onderstreep: Baiemaal protesteer profete tussen ons en om ons en rondom ons - en dalk selfs ook ín ons - teen sy of haar roeping as profeet. Byvoorbeeld, een voorbeeld Jeremia. “Ag, Here, my God, ek kan nie praat nie, want ek is te jonk.” Maar God antwoord: “Moenie sê: Ek is te jonk nie. Ek sal by jou wees.”
Profeet-wees begin nie noodwendig by vertroue of selfvertroue nie. Dit begin by luister. Ons eerste taak is om stil te word en te luister – sensitief te luister – na God se stem; binne en buite onsself. Die profetiese lewe is nie ‘n lewe van skree en skel en preek en leer en proklameer nie. Dit is eerder ‘n lewe van luister en dan getrou gaan leer en gaan lewe daarvolgens. 'n Profetiese lewe begin nie by praat nie, dit begin by luister. Dit gaan nie net oor jou mond nie. Die waarheid is dat profete nie altyd gehoor word nie. Ek kan talle voorbeelde uit die Ou Testament opnoem en net so ook talle voorbeelde uit die Nuwe Testament. Elia moes vlug. Jesus was verwerp. Maar, tog bly hulle getrou aan hulle roeping en trou aan die God van hulle roeping. Die waarde van jou roeping lê nie in die sukses daarvan nie, maar in die waarheid daarvan. Die groot misverstand rakende profeet-wees, is om die wêreld te verander alvorens ons God toelaat om eers onsself te verander.
Wanneer jy die Here toelaat om jou te vorm, word jou hele lewe uiteindelik ‘n profesie. Die profetiese roeping lê nie in groot toesprake nie, maar eerder in ‘n dag-tot-dag lewenswyse wat Jesus se karakter deur jou karakter bekendmaak. Om profeet te wees, is nie ‘n roeping tot grootheid nie, maar eerder ‘n roeping tot getrouheid. Die profeet sê nie: “Kyk na my!” nie. Eerder: “Kyk en luister na God.” ‘n Profeet is nie noodwendig ‘n persoon wat altyd onmiddelike verandering bewerk nie, maar iemand wat in getrouheid – op klein en op groot maniere – leef en leer volgens God se stem – selfs wanneer die wêreld rondom hom of haar nie verander nie.Om alles wat jy doen met deernis te doen. Om mense te ondersteun wat nie ondersteuning het nie. Om met regverdigheid op te staan teen onregverdigheid. Om woorde te spreek wat bou, nie breek nie. Om vrede te bevorder daar waar konflik heers en mense stry en baklei. Om stukkende verhoudings te herstel. Om integriteit te toon in selfs die kleinste van klein handelinge. ‘n Inspirerende oproep. ‘n Boodskap van bemoediging en aanmoediging. Selfondersoek. Stilwees voor die Here. Verantwoordelike gebruik van sosiale media. Om ‘n stem te wees vir iemand wie nie ‘n stem het nie. Om God se wil te laat geskiet. Om jou gawes te gebruik tot ander se voordeel.
Dit is wat dit vra om ‘n profeet te wees in 2025. As jy glo in God… As jy glo in Jesus: Jesus se lewe en Jesus se leer en Jesus se liefde… As jy glo in die Gees wat jou inspireer: om te hoop ten spyte van alle wanhoop… As jy glo in die Gemeente – nie in geboue en in rituele nie, maar in mense wat hier op die aarde die Koning van alle konings se ryk wil laat kom, soos in die hemel… As jy glo dat woord nie sonder daad moet staan nie… As jy glo in ‘n Here wat nie stilbly nie en jou roep om ook nie stil te bly nie… Dan maak jou geloof van jou ‘n profeet. Dan maak jou God van jou ‘n profeet.




Comments