top of page

Christene nou 'n minderheidsgroep


ree

Die afgelope week het daar ‘n nuusberig in die pers verskyn wat voorhou dat Christene nou ‘n minderheidsgroep in Engeland en Wallis is. Netwerk24 berig dat die jongste sensusdata daarop dui dat minder as 50% van die bevolking van Engeland en Wallis hulself tans identifiseer as Christene.


Volgens die berig is dit ‘n waterskeidingsmoment wat ‘n groot skuif na sekularisme in multi-kulturele Brittanje aandui. As hierdie tipe berig jou bekommerd maak – soos wat dit vir my bekommerd maak – help dit dalk om te onthou dat die Christen-geloof ontstaan het as ‘n minderheidsgroep. Christenskap het begin as ‘n beweging binne Judaïsme in ‘n tyd toe die Jode oorheers is deur ‘n buitelandse moondheid; die Romeine. In die eerste dekades na Jesus se dood was die Christendom dus ‘n klein, ongeorganiseerde “sekte” wat voorgehou het dat ‘n mens persoonlike verlossing van die dood kon kry deur geloof in Jesus Christus, die Seun van God.

In hierdie tyd het Paulus, ‘n Romeinse burger, briewe geskryf aan talle Christen-gemeenskappies wat verspreid oor die Romeinse Ryk geleef het. Die inhoud van hierdie briewe wys vir ons dat Paulus en sy mede-gelowiges nog besig was om uit te werk wat dit beteken om as Christen in hierdie wêreld te leef. Die briewe bevat redenasies en bepeinsing oor ‘n wye verskeidenheid van kwessies – van alledaagse dinge tot komplekse teologiese sake. Dit is duidelik dat die vroeë Christene dikwels deur nuwe uitdagings gekonfronteer is en dat hulle dan telkemaal by die Here wysheid gaan soek het oor hoe om daardie uitdagings te hanteer.

Ons vier een van die dae weer Kersfees. Maar ons besef dikwels nie wat die koms van die Jesuskind vir die eerste Christene beteken het nie. Vir dié wat Jesus wou volg in die eerste eeu het dit groot opofferings beteken: hulle was gemarginaliseer deur die regering en hul gemeenskappe. Later is hulle brutaal vervolg. Hulle was werklik ‘n vervolgde minderheidsgroep in die volle sin van die woord.

Dis dan ook geen wonder dat die Nuwe Testament dikwels potensiële volgelinge van Jesus hieroor waarsku nie. So staan daar in Lukas 14 vers 28: “Moenie eers begin voordat jy die koste bereken het nie.” En dan verder in vers 33: “Só kan niemand my dissipel word sonder om alles vir My prys te gee nie.” Om die waarheid te sê, die eerste Christene was gewaarsku om swaarkry as gevolg van hul geloof, te verwag en dit te omarm, soos in 1 Petrus 4 vers 16: “As jy egter swaarkry omdat jy ’n Christen is, is dit geen skande nie. Inteendeel, prys God vir die voorreg om hierdie Naam te dra!”

Mag Kersfees jou hierdie jaar herinner aan hoe Christenskap begin het: in ‘n stal met ‘n baba en skaapwagters wat besoek kom aflê het – nie ‘n wêreldleier wat gebore is om ‘n magsposisie te beklee met politieke raadgewers as sy eerste besoekers nie. Christenskap het ontstaan as ‘n minderheidsgroep. Maar dit het soos ‘n veldbrand versprei, want Christenskap is gemaak om in hierdie omstandighede te floreer. Mag jy hierdie eienskap van jou geloof tydens Kersfees herontdek.

Comments


bottom of page