top of page

Die dinge waarvoor ek nie lus het nie


ree

Wat is die dinge wat jy vandag moet doen, waarvoor jy eenvoudig net nie lus het nie? Jy weet waarvan ek praat: daardie take wat voor jou lê en wat heeltyd aan jou gedagtes karring, maar jy kan jouself net nie so vêr bring om dit te voltooi nie. Jy weet jy is veronderstel om dit te doen; jy weet dit sal baie beter wees as jy dit net gedoen kry. Maar jy het eenvoudig net nie lus om dit te doen nie – glad nie!


Dis asof jy net nie genoeg energie bymekaar kan skraap om daardie taak aan te pak nie, en elke liewe afleiding het buitengewone mag om jou aandag elders te fokus. Ann Voskamp help ons wanneer ons só voel, deur te wys op die vreemde patroon wat vordering dikwels volg. Hierdie vreemde patroon speel af in feitlik alle areas van ons lewens:


· Gesonde, heilsame kos verg dikwels meer dissipline en moeite om voor te berei as gemaklike en vinnige kitskos.

· Om jou liggaam gesond en fiks te hou vereis inspanning en doelbewuste ongemak, terwyl dit gemaklik en moeiteloos is om in ‘n ongesonde lewenstyl te verval.

· Jy moet jouself dwing om daardie geestelik vervullende boek te lees, maar om deur die TV kanale te blaai op soek na iets om op die rusbank te geniet, kom outomaties.

· Om ‘n uitnemende musikant te word vereis eindelose ure se oefening en toewyding.

· ‘n Mens ontwikkel sportvaardighede slegs wanneer jy die oefeninge oor en oor doen.

· Dit is baie makliker om na Facebook te loer as om Bybel te lees en te bid.

· Om te leer lees en skryf neem jare se onderrig op skool.


Ek dink jy kry die idee.


Die patroon van alle dinge is dit: die groter vreugde en die groter vervulling word verkry deur moeite en deursettingsvermoë en pyn. Dit word verkry deur dinge wat jy jouself moet dwing om te doen – dinge wat jy gewoonlik nie lus het om te doen nie. Terwyl die kortstondige, onvervullende en dikwels destruktiewe dinge so aanloklik is soos ‘n kombers op ‘n koue reëndag.


Hoekom moet dit só wees?


Ann Voskamp sê dit is omdat die Here vir ons wys, dat daar oral, in alle(daagse) dinge, ‘n groot beloning wag op dié wat kan volhou en aanhou. Dit is die boodskap van Hebreërs 10:32-34 (Die Boodskap):

32Onthou julle nog toe julle pas Christene geword het? Julle het baie swaargekry, maar niks kon julle wegkry van julle vertroue op God nie. 33Voor almal het mense partymaal die lelikste dinge vir julle gesê en julle probeer seermaak. Ander kere moes julle die mense help aan wie sulke lelike dinge gedoen is. 34Party het selfs in die tronk beland en dan het julle hulle ondersteun. Julle het maar net geglimlag toe mense al julle goed kom vat het omdat julle Christene is. Julle kon dit doen, want julle het geweet dat julle in die hemel dinge het wat beter is en wat niemand van julle sal kan wegvat nie.


Dit beteken dat ons alledaagse gesukkel om belangrike dinge gedoen te kry, ‘n klein modelletjie van die groter geestelike beginsel is: om Jesus te volg beteken om lewenslank teen dinge te stry wat aanlokliker lyk; om besluite te maak wat dalk moeiliker is; om die pad te kies wat nouer is; om soms die standpunt te steun wat minder gewild is; om getrou te volg deur moeilike tye omdat ons weet daar wag ‘n groter beloning aan die einde van die reis.

Daarom sê 2 Korintiërs 5: 6-8 (NLV):

6Ons is dus altyd vol moed omdat ons weet dat alhoewel ons nog in die liggaam woon, ons eintlike woning by die Here is; 7want ons leef deur te glo en nie deur te sien nie. 8Ons hou moed, maar sou liewer uit die liggaam wil verhuis om by die Here te gaan woon.


So, as jy vandag dinge moet doen waarvoor jy nie lus het nie, doen dit in die wete dat jy besig is om te oefen vir die ewigheid. Doen dit vir die groter vreugde en vrede wat daarná wag. Doen dit met die woorde van 2 Korintiërs 4:17 en 18 in jou gedagtes (NLV):


17 Ons swaarkry op die oomblik is gering en tydelik, maar dit bewerk vir ons ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en vir altyd vas sal staan.

18 Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare, want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare vir altyd.

Comments


bottom of page