Die Here doen altyd wat Hy belowe het
- bestuurder5
- Feb 16, 2023
- 2 min read

Ek sit weer in dieselfde hoekie onder die hangplante wat ek vergeet het om water te gee. Ek sug my koffie koud. Op die tafel staan ‘n rotsrosie in ‘n ronde bont bak. Ek dra ‘n oorgroot trui en blaai deur my Bybel. Die son is nuuskierig en sit saam met my op die stoep.
Binne my Bybel bêre ek die blaadjie waarop ek verskeie verklarings, met die beste bedoelings, neergepen het. Hierdie lyntjiespapier fasiliteer ‘n lang lys van voornemens wat ek gemaak het teenoor die Here, maar ook teenoor myself. Dit is my mooiste beloftes wat ek veilig hou binne my belangrikste Boek. Ek lees daardeur en sug weer:
Gee ‘n mooi woord aan ‘n harde hart.
Onthou die belangrike datums.
Plak pleisters op stukkende knieë.
Glo dat jy berge kan versit.
Sien die mooi in die lelik raak.
Bly rustig en rasioneel wanneer storms woed.
Bêre spesiale oomblikke om later weer te besigtig.
Maak grappies.
Twyfel, maar hou aan hoop.
Droom met jou oë oop.
Deel altyd in almal se geluk.
Koop die poskaart, al is dit duur.
Gee die hangplante weekliks water.
Ek sug want my woorde is soms wreed. Ek onthou dinge verkeerd. Ek kyk die stukkende knieë mis. Ek hou my besig met molshope. Die lelik is vir my by tye baie meer as die mooi. Wind oorweldig my maklik. Ek neem te min foto’s en ek lag nóg minder. My drome bly net drome. Ek fokus te veel op my eie geluk. Ek loop verby die poskaarte en die mooi magnete. Oor my hangplante wat hang, het ek alreeds genoeg gesê…
Tog vind ek vanoggend troos…
Hierdie klein lysie vol leë beloftes bêre ek binne die groot Belofte-boek. Al faal en val ek elke dag, bly my God steeds getrou aan Sy lang Liefde-Lysie wat Hy, met my in gedagte, opgestel het. Sy Woord is waar.
Klaagliedere 3:22 (ABA07)
“Die Here doen altyd wat Hy belowe het.”
Ek vou my papiertjie op en bêre dit weer binne my Bybel. Ek besef dat my enigste volhoubare belofte is, dat ek belowe om God se beloftes te glo.
Ek sug ‘n laaste keer – ‘n sug van tevredenheid.
“Jou foute maak jou mooi,
jou trane maak jou mens,
en jy is goed genoeg.”
- Kaalwoorde
Vind rus en rustigheid in Sy getrouheid.
Bly jou beste doen met die beste bedoelings.
En, weet dat Sy Woord waar is.




Comments