top of page

Die leeu en die lam


ree

Die Bybel is vol van simboliek om God te beskryf en baie maal staan die simbole direk teenoor mekaar, naamlik die van God as leeu en lam. Die een die roofdier; wild, ontembaar, gevaarlik en sterk. Die ander die prooi; onskuldig, kwesbaar en mak.

 

In ons tradisie, veral na die tyd van Pase waar ons redelik onlangs deur is, verstaan ons goed hoe God, deur Jesus, deur die lam verteenwoordig word. Die groot offer vir die wêreld en hoe die onskuldiges die skuld van die skuldiges dra. Eenvoudig ‘n briljante simbool vir die liefde van Christus.

 

En die leeu? Dit is nie so ‘n maklike sprong om te maak van liefde liefdevolle God na ‘n een wat deur ‘n roofdier uitgebeeld word nie.

 

Ons is minder geneig om aan God te dink as wild en ontembaar. Baie maal wil ons God binne die perke van ons gemak en ons wêreldbeskouings omgrens. Maar hierdie omheining maak dat ons die idees wat ons het oor God begin glo, eerder as verras word deur wie God is. Hetsy dit mak of wild is.

 

In Die Leeu, die Heks en die Hangkas deur C.S. Lewis, is daar ’n gedenkwaardige oomblik wanneer Meneer Bewer met die Pevensie-kinders oor Aslan, die groot leeu en ware koning van Narnia, praat. Lucy, wat hoor dat Aslan ’n leeu is, vra bekommerd of hy veilig is.

 

Sy vra: “Is hy, heeltemal veilig, is hy mak? Ek sal nogal senuweeagtig wees om ’n leeu te ontmoet.”

 

Meneer Bewer antwoord:

"Veilig?" vra Meneer Bewer, "Wie het gesê iets van veilig of mak? Natuurlik is hy nie veilig en mak nie. Maar hy is goed. Hy is die Koning, sê ek vir julle."

 

Hierdie kort gesprek dra ’n diep boodskap oor: Aslan (’n verteenwoordiging van Christus in die verhaal) is nie mak of voorspelbaar nie — hy is magtig, ontsagwekkend, selfs gevaarlik — maar hy is altyd goed, regverdig en betroubaar.

 

Mag ons verras word deur God as leeu en mag dit ons oortref. God is nie vir een oomblik mak of tembaar nie, maar altyd goed. Amen.

 

Comments


bottom of page