top of page

Die stories agter "Sy Liefde is Meer"


ree

Kenridge Gemeente se eerste musiekalbum, “Sy Liefde is Meer”, is vroeër hierdie maand vrygestel op al wat ‘n streaming platform is. Jy kan daarna luister op ondermeer Apple Music, Spotify, YouTube Music, en Deezer.


Die album bestaan uit ‘n versameling Afrikaanse lofprysings- en aanbiddingsliedere wat ons deur die inperkingstyd van die Covid-19 pandemie gedra het. Dit was juis hierdie krisistyd wat gelei het tot die geboorte van die album. In 2020, toe alle kerke toegemaak is en ons almal in ons huise vasgekeer is, het ons musiekbediening geraap en geskraap om steeds die gemeente te bly bedien ten spyte van die inperking. Ek het sommer toerusting wat ons kerk reeds besit het, bymekaar gemaak en in ‘n pakkamer agter ons huis begin om baie eenvoudige opnames te maak op gratis sagteware. Ons gemeente se eerste musiekvideos was in my sitkamer verfilm. As gevolg van die inperkingsmaatreëls moes ek op daardie stadium alleen speel en opneem; net een stem en een kitaar.


Toe die inperkingsmaatreëls later in daardie jaar effe verslap is, kon ons bietjie beter toerusting in my huis insmokkel; ons het ons eerste ateljeemikrofoon, basiese ateljeeluidsprekers en uiters eenvoudige akoestiese behandeling aangeskaf. Ons het steeds op die eenvoudige, gratis sagteware opgeneem, maar ek kon begin om een-vir-een van die gemeente se ander musikante te betrek by die opnames. Dit het ‘n groot verbetering aan die musiek gebring, want skielik is daar meer stemme en klavier bygevoeg. Ons musiekvideos kon ook op daardie stadium op die kerk se verhoog verfilm word; solank ons min genoeg mense bymekaar was, maskers gedra het en voor 21h00 weer by die huis was!


Daarna het dinge vinnig ontwikkel. Ons het besef dat video- en musiekproduksie ‘n groot rol in die toekoms in ons bediening gaan speel - selfs ná die pandemie. Daarom is ‘n Video- en Musiekproduksie bediening gevestig. Hierdie bediening se eerste taak was om ‘n ou stoorkamer onder in die kerk te omskep in ‘n ateljee. Hierdie ateljee moes geskik wees vir video- sowel as musiekopnames. Die ateljee is toegerus met mikrofone, Yamaha ateljeeluidsprekers, ‘n mengbank wat spesifiek vir opnames ontwerp is, behoorlike akoestiese behandeling en professionele sagteware! Nou het ons die ruimte en die toerusting gehad om te groei en soos wat ons vaardighede en kennis toegeneem het, het die kwaliteit van ons opnames verbeter. Tromme, baskitare en elektriese kitare is bygevoeg en die verwerkings het meer gesofistikeerd geraak.


Die ateljee het ons in staat gestel om verskeie produkte te lewer: eredienste is vooraf in die ateljee opgeneem en dan op Youtube geplaas, videoreekse vir ons Connectgroepe is verfilm, ‘n aanlyn kerssangdiens is vervaardig en nog baie meer. Deurentyd het ons musiek opgeneem vir gebruik in ons aanlyn eredienste. Later het ons besluit om ons eredienste uit te saai via ‘n Youtube livestream en nie meer vooraf in die ateljee op te neem nie. Die gevolg hiervan was dat meer ateljeetyd nou beskikbaar was vir die opneem van ‘n volledige album en die droom van ‘n album vir die gemeente het ‘n realiteit geword.


Sy liefde is meer bevat 10 liedere:


01 – Psalm 148

Hierdie lied gaan daaroor om die Here te loof en prys. Ons sing saam met die hele skepping om ons Koning se naam groot te maak. Die verwerking is geïnspireer deur ‘n verwerking van Phil Wickam van ‘n bekende tradisionele melodie.


02 - Kom Jesus Kom

Hierdie lied is deur Retief Burger geskryf en beskryf ons verlange na die dag wanneer Jesus weer terug aarde toe sal kom om ‘n einde te maak aan alle swaarkry en lyding.


03 - Grote God aan U die eer

Hierdie verwerking is ‘n herontdekking van twee geliefde liedere uit ons kerk se verlede. Baie van ons het hierdie twee liedere as kinders gesing en nou trek hulle ‘n splinternuwe baadjie aan.


04 – Psalm 1

‘n Toonsetting van Psalm 1 deur Braam Hanekom – hierdie lied is vir dié wat begeer om regverdig te lewe en om te groei soos ‘n boom wat langs ‘n waterstroom geplant is.


05 - O Heer my God

‘n Ou gunsteling waarin nuwe lewe geblaas is – ons prys die Here vir sy foutlose skepping van die hemel en die aarde; hoe groot is U!


06 – ‘n Vaste Vesting is ons God

Hierdie lied is ‘n moderne interpretasie van ‘n lied wat oorspronklik deur Martin Luther in 1529 geskryf is! Jesus is en was nog altyd ons rots, ons veilige vesting en ons skuilplek.


07 – Ek smag na U

‘n Lied geskryf deur KrissTel Combrink en Hennie Maritz wat vertel van ons verlange na Jesus se liefde, vrede en reinheid gedurende die storms van die lewe.


08 – Vredeval

Vredeval is geskryf deur Louise Vorster terwyl sy as student ingeskakel was by Kenridge Gemeente. Dit herinner ons daaraan dat die Here ons bron van vrede sal wees wanneer ons angstig raak en worstel met ons vrese.


09 – Ek sal wag op U

‘n Pragtige interpretasie van Psalm 130 deur Shane and Shane wat vir ons gebruik in Afrikaans vertaal is; ons hunker na genade en verklaar dat ons op die Here sal wag; ons erken dat almal wat op Hom vertrou, sal genesing vind is sy groot opoffering.


10 – Sy liefde is meer

Matt Papa en Matt Boswell het hierdie pragtige lied geskryf en dit is ook vir ons in Afrikaans vertaal. Dit verklaar dat die Here nie tred hou van al ons sondes nie; al is dit ontelbaar baie, is sy liefde steeds meer!


Mag jy hierdie album soveel geniet soos wat ons dit geniet het om dit op te neem; mag dit jou inspireer om die Here te loof en prys; en mag dit jou diep bewus maak van sy oneindige liefde vir jou.


Musiekgroete

Johan en die Musiekbediening

Comments


bottom of page