top of page

Die tyd vlieg verby... en die punt is?


ree

Lucas Maree het jare gelede in een van sy liedjies gesing dat die tyd so bitter gou verbygaan. Ons sê dikwels vir mekaar – “die tyd vlieg darem!”. Dis veral hier aan die einde van ‘n jaar wanneer ons so besig raak dat dit vir ons voel die tyd vlieg. Eeue gelede het Moses in Psalm 90 ook so oor tyd gepraat - “Onder U toorn vlieg ons dae en skiet ons jare verby soos ‘n gedagte.” Dis die rede hoekom ons, soos met ons geld, ook ‘n akkurate begroting van ons tyd moet maak. Want as ons spandabelrig met ons tyd omgaan, kan ons later met selfverwyt worstel.


‘n Paar jaar gelede skryf die Australiese verpleegster en outeur Bronnie Ware in haar boek “The Top Five Regrets of the Dying (2014)” oor haar wedervaringe met terminale siek mense in palliatiewe sorg tydens die laaste paar maande van hulle lewe. Op die vraag oor dinge waaroor hulle spyt is wanneer hulle dink aan die tyd wat verby is – het die volgende 5 tema’s telkens herhaal:

· "I wish I'd had the courage to live a life true to myself, not the life others expected of me."

· "I wish I hadn't worked so hard."

· "I wish I'd had the courage to express my feelings."

· "I wish I had stayed in touch with my friends."

· "I wish that I had let myself be happier."


Al hierdie onvervulde wense het te doen met prioriteite en lewenspraktyke wat daaruit voortspruit. Soos in die bestuur van ons finansies maak ons ook foute met ons tydsbestuur. En hierdie foute het te doen met onderliggende lewensfilosofieë. (Jurie het verlede week daaroor gesels in sy Vrydagnuus - https://www.ngkenridge.co.za/post/wie-is-ek-regtig) Baie mense bou hulle siening van hulleself op verkeerde aannames - “ek is wat ek doen”, “ek is wat ander van my sê”, en “ek is wat ek besit.” Hulle prioriteite word dan bepaal deur besit, prestasie en reputasie. En hierdie lewensingesteldheid is bedrieglik want hierdie dinge is tydelik en ons kan dit in ‘n oogwink verloor. Maar as ons identiteit veranker is in die wete dat ons God se geliefde kinders is, verander ons tydsbestedings-prioriteite en praktyke. Dan kan ons vrymoedig die inhoud van Psalm 90:12 bid: “Here, leer ons om ons dae met wysheid te gebruik.”


Lees gerus weer deur die lysie hierbo.

· Waaroor sou jy spyt wees aan die einde van jou lewe?

· Watter prioriteite en tydsbestedingspatrone weet jy moet verander?


Geniet ‘n heerlike naweek. Doen lekker dinge – want dis lekker om te lewe!


Vrede

Willem

Comments


bottom of page