Wie is ek regtig?
- bestuurder5
- Oct 27, 2022
- 3 min read

Twee van die meer-ingewikkelde vrae vir mense om te beantwoord is die vrae: “Wié is ek?”, en “Wié wil ek wees (of word)?”
Nou is dit heel waarskynlik nie vrae waaroor ek en jy elke dag dink nie. En tóg vorm hierdie vrae, en veral dan die antwoorde daarop, die fundamentele dryfkrag vir byna alles in ons lewens. Ons leef as’t ware die vrae en hul antwoorde elke dag sou ‘n mens kon sê.
Die meeste van ons sou moontlik 3 antwoorde op die eerste vraag kon gee: “Ek is wat ek doen”, “Ek is wat ander van my sê”, en “Ek is wat ek het of wat ek besit.” Of anders gestel: “Ek is my suksesse”, “Ek is my populariteit”, en “Ek is omdat ek oor mag of bedingingsmoontlikhede beskik.”
Ek vermoed ek en jy het dieselfde aanvoeling dat hierdie drie antwoorde nie die volle waarheid is nie. En dikwels selfs ‘n leuen kan wees.
Want al drie hierdie gewaande boustene van ons identiteit – sukses, populariteit, en mag – is maar erg broos, en ongemaklik feilbaar. Die lewe, en ook mense, is ontstellend onvoorspelbaar. Wat vandag as sukses beskou word, is dalk môre of volgende maand nie regtig meer noemenswaardig nie. Vandag se mooiweersvriende en ondersteuners en napraters kan ontnugter raak, of dalk ‘n ander oortuiging begin huldig, en skielik verdamp jou magsbasis, én jou mag en populariteit. Om dan jou beeld van sukses en gewildheid vol te hou sonder jou juigkommando is hoegenaamd nie so eenvoudig nie.
Daarom – om jouself afhanklik te maak van die wêreld en van mense se erkenning en aanvaarding is om op dun ys te probeer skaats. Jy kan byna daarop wed dat jy binnekort onder die ysige water van verradelikheid en teleurstelling gaan verdwyn.
Wáár, of wáárin lê dan ‘n oplossing? Wáár, of hóé kry ek ‘n grondige en geloofwaardige antwoord op die vraag: “Wie is ek?” En sou só ‘n antwoord my kon help op my reis van selfontdekking na wie ek al meer wil word?
As ek na die Bybel en na skrywers luister wie se standpunte oor tyd heen beproef en gewaardeerd is, is daar eintlik net één geloofwaardige en identiteitsvormende antwoord op hierdie twee vrae. Die bekende teoloog en pastorale sielkundige, Henri Nouwen, skryf in een van sy boeke die volgende: “Jesus came to announce to us that an identity based on success, popularity and power is a false identity – an illusion! Loudly and clearly he says: “You are not what the world or people makes you: but you are children of God.”
Johannes, Jesus se vertroueling-dissipel, kon nie ophou om sy lesers aan hierdie waarheid te herinner nie: “Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook. … Geliefdes, ons is nou reeds kinders van God.” (1 Joh.3:1-2)
En in 4:7 – “Ons moet mekaar liefhê, want liefde kom van God, en elkeen wat liefhet, is ‘n kind van God en ken God.” En in 5:1 – “Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God; en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief wat kinders van die Vader is.”
Op die vraag: “Wié is ek?” is daar één antwoord wat my gees en wese en toekoms veranker en tot rus bring. “Ek is ‘n kind van God” as my identiteitsverklaring plaas alles wat ek is of doen, of wat mense van my sê, búíte myself, en alles wat Christus vír my en in my plek gedoen het, bínne-in my. Sodat ek kan word wat Christus deur sy Gees in my laat groei en ontvou.
Vriende, daar lê ‘n ongekende vrede en rus vir my en jou wanneer ons begin verstaan wíé ons ín Christus is, en dit begin lééf. En daar is ‘n voortdurende onrus en soeke in ons wanneer ons hierdie waarheid en genadegeskenk vergeet of verontagsaam, of nie na waarde skat nie.
Doen ‘n bietjie “soul searching” en bepaal vir jouself wat jou antwoord is op die vraag: “Wie is ek?” Daar is ‘n lewensverrykende antwoord, en ook báie lewensvernietigende antwoorde. Die keuse is myne en joune.
Groete tot ons weer saam gesels en nadink.
Jurie




Comments