top of page

Dit raak beter


Ek luister deesdae so bietjie na Francois van Coke se musiek, met die klem op deesdae. Ek en hy is in vele opsigte "karperde". Hy is een jaar ouer as ek, so ons is tydgenote. Ons is albei pastorie-kinders. En een van my beste vriende was slot en Francois die skrumskakel toe hulle saam in Hoërskool Bellville was. Maar dis waar ons ooreenkomste en konneksies ophou.


As ek sy storie reg verstaan, dan het ek en hy in ons laat-tienerjare in teenoorgestelde sosiale rigtings beweeg. Ek was die "CSV-tipe" – voorbeeldig (behalwe met akademie) en godsdienstig.


Klink my Francois was een van die “manne” - rook, rugby en rebel (al drie is werkwoorde, selfstandige naamwoorde en byvoeglike naamwoorde). Hoor maar as hy sing in sy liedjie Dit raak beter:


Toe ek 'n tiener was

En raad skaars was

Hartgebroke seun

Hartseer en alleen, die somer was lank

In die buitekamer van die pastorie,

los sigaret, rook in die bed...


My en Francois se lewenspaadjies het wel na skool ook ooreenkoms, wat uitloop in byna teenoorgestelde rigtings. Ons het albei gaan swot - en opgeskop. Ek was agter avontuur aan weermag toe en hy op die pad met 'n rock-band!


My avontuur het uitgeloop op stresfrakture en mediese ontslag uit die weermag. Twee na-skool beginne en nul vordering.


Francois het naam gemaak saam met F***fpolisiekar (FPK) en byna oornag 'n reuse sukses geword! En deel van die sukses was kontroversie. Die band se naam. Die inhoud van sommige liedjies. Los uitlatings oor godsdiens en geloof. Baie alkohol en wie weet wat nog. En daarom het ek nooit FPK se musiek geluister nie (voorbeeldige CSV-tipe.) Hy vertel verder is sy liedjie:


Deur die jare

Stoei deur die skare

Mense wat skree

Ek wat vergeet, herinner my weer

Van die konstante oor en oor

Ander dorp...


Maar een rede hoekom ek deesdae na Francois se musiek luister gaan juis oor die koor van hierdie liedjie. Ek kan lekker met hom relate wanneer hy sing:


Dit raak beter as jy ouer raak

En my kop voel minder deurmekaar

Verantwoordelikheid mors al my tyd en geld, dit raak beter as jy ouer raak...


Ek raai die verantwoordelikheid het te doen met die getroude lewe en ouerskap en dalk die feit dat hy ook ʼn besigheid het, met kliënte. Met ander woorde, verantwoordelikheid – om jou naaste mense en die mense wat elke dag jou pad kruis, lief te hê soos jouself, vra om jou fokus te skuif sodat sekere issues nie meer aandag kan kry nie. Ek ken nie die besonderhede van Francois se storie nie, maar ek wonder ook of die boodskap van Jesus wat hy in sy grootword pastorie-jare gehoor het dalk meer sin begin maak toe hy buite homself en met opoffering moes begin liefhê – jy weet, verantwoordelikheid.


Sy liedjie is vir my ʼn aanmoediging om al my energie te spandeer om mense lief te hê. Wanneer ek neerslagtig raak oor donker tye (diep winter, ons regering, moontlike kern-oorlog, klimaatsverandering, ens.) dan fokus ek daarop om iemand naby my lief te hê soos Jesus ons leer en sing ek saam met Francois:


Dit raak beter as jy ouer raak

En my kop voel minder deurmekaar

Verantwoordelikheid mors al my tyd en geld,

Dit raak beter as jy ouer raak...

73 views

Recent Posts

See All
bottom of page