top of page

Doen jouself die guns en gee om vir iemand anders


 

Deur Willem Lötter




“Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie...” - Gal 6:9

Ek luister so paar weke gelede na ‘n kundige in streshantering. Hy sê toe dis krities vir ons oorlewing om gereeld uit jou “huiskantoor” en van jou rekenaarskerm te ontsnap om in die buitelug te kom. Vir die meeste van ons doen die see, Tafelberg, Kirstenbosch of dalk die Matroosberg se sneeu en Namakwaland se blomme die ding. Ander lede van ons spesie het ekstreme hoë adrenalien, hoë risiko avonture nodig om te ontlaai en te herlaai. Hulle wil die hoogste piek van o.a. Kilimanjaro en Mount Everest bereik. Dis egter duur en gevaarlik en baie mense sterf tydens hierdie ekspedisies.

Een so verhaal is dié van David Sharp - ‘n 34-jarige ingenieur van Cleveland - wat in Maart 2006 op Mount Everest dood is. Dié ervare bergklimmer se suurstof het op pad ondertoe opgeraak en hy het baie swak onder 'n rotswand bly lê. In daardie tyd het 40 bergklimmers by hom verbygestap. Hulle het hom sien lê in die ys en besluit dat hy dit in elk geval nie sou maak nie. Met net genoeg suurstof om te verseker dat hulle self veilig kan klaar maak - het hulle hom agtergelaat. Hy het verkluim. Terug by die huis sou hierdie klimmers fel kritiek verduur. Al was hulle besluit waarskynlik ‘n rasionele beoordeling gegrond op jare se ervaring, het dit baie liefdeloos gelyk. Hulle het na die man gekyk, hom gesien en niks gedoen nie. Ek het baie gewonder. Sou ons gestop het om te help? Sou ek ‘n eens in ‘n leeftyd droom van “Everest-formaat” op risiko plaas vir iemand wat ek nie ken nie vir wie ek streng gesproke niks kan doen nie? Dis nié so maklik om soveel om te gee dat dit jou dalk jou lewe kan kos nie.

Die punt van die storie is - ander mense se swaarkry raak ons nie altyd in der mate dat dit ons dring om daadwerklik te help nie. Daar is ook baie faktore wat veroorsaak dat ons nie die kapasiteit vir deernis het nie. Een so faktor is “compassion fatique” - ‘n erkende vorm van uitbranding wat maak dat ons ‘n onvermoë het om empatie te betoon. Ons voel totaal en al magteloos en oorweldig. Dis ‘n moeilike plek om te wees.

Die Bybel moedig ons aan om nie moeg te word om goed te doen nie. Jakobus herinner ons dat deernis en empatie met ander se nood ons eie geloof lewendig bou.

Die nood in Suid Afrika is groot en ons “omgee-tenke” is leeg. Ons wonder ook soms of ons met ons klein bietjie “suurstof” wat ons eintlik vir ons eie oorlewing nodig het, ‘n verskil kan maak. Ek wil jou uitnooi om net êrens te begin om deernis te bewys. Wanneer ons aan iemand anders waardigheid verleen deur deernis te bewys, bou ons ons eie waardigheid en ons geloof.

Dink die naweek waar en met wie jy ‘n deernis pad kan begin loop. Dalk net een telefoon-oproep of een deernisvolle kyk. Gee net een tree en voel die energie.



21 views

Recent Posts

See All
bottom of page