top of page

Onder dieselfde ster

Die ster het daardie nag oor almal geskyn. Jesus het verskyn. Dit is wat Epifanie beteken. En sy lig sou nooit ooit verdwyn nie. 

 

Dit het oor die paleis van Herodes geskyn. Die marmer vloere het geblink en die fakkels het teen die mure geflikker. Dit het oor die stofpaaie geskyn waar ‘n paar vreemde sterrekykers, moeg maar vol hoop, hulle kamele aangespoor het. Dieselfde lig het oor twee verskillende tipes mense met twee verskillende tipes harte opgekom.

 

Herodes het die ster dopgehou. Sy hande was klam. Sy wraak was vlak. ‘Die Koning van die Jode is gebore,’ het hulle gesê. ’n Ander koning. Daardie woorde het soos gif in sy gedagtes gaan lê. Hoe kan iemand anders aanspraak maak op wat hy met bloed en vrees vir homself opgebou het?  Hy het die skrifgeleerdes laat roep. Betlehem, was die antwoord. Dit was naby. Tog was dit te ver vir ’n mens wat nie wou buig nie.

 

Die sterrekykers het ver geloop daardie nag. Hulle het nie ’n paleis gesoek nie. Elke tree was ’n daad van geloof. Die ster het soms agter wolke verdwyn, maar hulle het aanhou loop.

 

In Herodes se paleis is planne gebore – donker planne! Hy het gepraat van aanbidding, maar sy woorde was vals. Sy kroon het swaar op sy kop gedruk, nie van goud nie, maar van vrees en haat.

 

Toe die ster uiteindelik stilstaan, was dit nie bokant ’n troon nie, maar bokant ’n huis op ‘n plot. Die sterrekykers was verstom. Is dit al? Ja, dít was al. Maar, dit was genoeg.

 

Hulle het ingegaan. Daar was nie wagte nie. Net ’n Kind. En tog het hulle knieë gebuig. Goud, wierook en mirre. Hulle het niks teruggehou nie. Hulle het alles gegee.

 

Daardie nag het Herodes wakker gelê. Die ster het steeds geskyn, maar dit het hom nie gelei nie. Lig kan die pad wys maar dit dwing niemand nie.

 

Die sterrekykers het huis toe gegaan met ’n ander pad. Hulle was nie meer dieselfde mense nie. Hulle het vir Jesus gesien en Hom aanbid.

 

Die ster het ‘n groter Lig uitgewys wat altyd sal skyn. Vir dié wat Hom wil volg.

 

Gebed: Here, help ons om U te aanbid soos die sterrekykers en soos hulle om te gee en oor te gee en weg te gee.

Amen.

Comments


bottom of page