top of page

Nuwe intrekker

Ons is nog taamlik vroeg in die jaar, so jy kan waarskynlik aan ‘n paar mense dink wat nou nuut in die omgewing ingetrek het. Miskien het jy kennis gemaak met iemand nuut in die buurt, of daar is nuus van ‘n nuwe maatjie in die skool. Dalk is jy die een wat nog bietjie vreemd voel omdat jy nog leer waar alles is, hoe die paaie werk of dalk nog met iets anders as ‘n CY-nommerplaat rondry. Hulle sal hulself dalk nog identifiseer as ‘n Pretorianer of Bloemfonteiner of Durbaniet of waar hulle ook al vandaan kom, veral wanneer hulle vreemd en onseker voel.

In hierdie seisoen van ons gemeente, praat ons oor die geestelike dissipline van Bybel lees. Dis eintlik so onderliggend aan alles wat ons doen as gelowiges. Dit is die eerste plek waar ons vir God leer ken en dit is die bron waarheen ons gaan om die lewe beter te verstaan. In ons Gereformeerde tradisie is dit ook die middelpunt van ons kerkbelewenis.

Tog is dit in my persoonlike gesprekke met mense opvallend dat gelowiges ‘n moeilike verhouding met die Bybel het. Ons erken almal die belangrikheid van die Bybel en daarmee saam bely die meeste van ons dat ons “nie lees soos ons moet nie.” Ek vermoed dat daardie antwoord beteken onder andere idees soos ek lees nie elke dag nie; ek kom nie deur die Bybel nie; ek het nie genoeg kennis oor die agtergrond van die Bybel nie; wanneer ek lees sukkel ek om my aandag te hou; ek kan nie onthou wat ek gelees het nie... Die emosies wat dit veroorsaak is skuldgevoel, vrees en angs, of selfs vreemd, soos ‘n nuwe intrekker.

Die doel van ons fokus op hierdie geestelike dissipline (praktyk/ oefening) is juis om die Bybel toeganklik te maak en jou te help om te begin waar jy is om dit te in te oefen en vreugde daarin te vind. Die skrywer, Jan Johnson, maak die onderskeid tussen “trying” en “training”. Sy sê wanneer ek “probeer” om gereeld Bybel te lees om God se stem te hoor dan stel ek myself op vir mislukking, want “probeer” sê dit is moeilik en die uitdaging waarskynlik te groot. “Training” of oefen sê dis iets wat ek nie ken nie, maar wat ek met herhaling sal aanleer.

Hierdie week se tema in die praktyk is meditasie. Eugene Peterson gebruik in sy boek Eat this book die prentjie van kou en eet om meditasie-lees as iets van ‘n herhalende lees te beskryf. Dit kom neer op lees minder van die Bybel, meer keer - ‘n prentjie wat meer pas by “training”.

Wanneer die geloofshelde deur die eeue die belangrikheid van meditasie beskryf, dan gaan hulle baie kere na Johannes 15, waar Jesus sê: Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in My bly en Ek in hom, dra baie vrugte... As julle in My bly en my woorde in julle...” (Joh. 15:5, 7). Die woordjie “bly” kan ons ook vertaal met woon, soos in die huis waarin jy woon.  In The Message vertaal Eugene Peterson Johannes 1:14 se prentjie van Jesus se koms as: “The Word became flesh and blood, and moved into the neighborhood..”. Dis dieselfde woordjie – die Woord het onder ons kom bly of anders woon, soos in ‘n huis.

Nuwe intrekkers is vreemd in die gemeenskap, maar kom elke dag terug na dieselfde adres. En wanneer die nuwe intrekkers genoeg terugkom na die adres, begin hulle tuis raak. Wanneer hulle begin tuis raak begin hulle hulself anders sien. Na ‘n tyd is hulle nie meer Pretorianers of Bloemfonteiners of Durbaniete nie, maar Kapenaars.

Jesus, die Woord het in die buurt ingetrek, en nooi ons om ook so daar te kom woon. Gaan elke dag terug na daai adres – met net ‘n bietjie op ‘n slag. Dit beteken herhaling, soos om te kou; herhaling, soos in oefening; herhaling, soos in elke dag huis toe gaan. En dan word jy iemand anders – iemand wat baie lyk soos Jesus.

Comments


bottom of page