Is lees van jou Bybel regtig nodig?
- bestuurder5
- 5 days ago
- 2 min read

Die stigter van Kenridge Gemeente het dikwels in die jare wat ons kollegas was, vir my gevra: “Wat lees jy op die oomblik, behalwe jou Bybel?”
Daarmee het hy nie bedoel watter fiksieverhale of vermaakliteratuur nie, maar watter teologiese boeke of artikels en joernale wat jou kennis van die Godsleer verbreed en verdiep. Nico was ‘n passievolle leser, ‘n leergierige predikant en teoloog, en daarom was gesprekke met hom altyd interessant en insiggewend.
Sy eksegese van ‘n teksgedeelte (die lees ‘agter’ die Bybelgedeelte of -teks) was altyd diepsinnig en daarom kon jy verryk, verruim, getroos, gemotiveer, of sommer net met ‘n ligter tred uit eredienste stap wat hy gelei het.
Die vermoë om te lees is ‘n voorreg wat wêrelde vir ‘n mens ontsluit. Lees verryk en verdiep jou kennis, dit ontwikkel en vorm insig en begrip vir die wêreld waarin ons leef. Want iemand wat lees, word blootgestel aan nuwe idees, meer perspektiewe, ander kulturele interpretasies van die lewe, en ervarings wat jou wêreldbeskouing en lewensbeskouing op ‘n verantwoordelike basis plaas.
Om die Bybel te lees, is ook glad nie so vervelig of onbevredigend soos sommige dit wil maak nie. Om die Bybel deur te lees, is immers nie ‘n wedloop teen tyd nie. Dit staan of val ook nie met ‘n éérste verstaan van wat jy lees nie. Om die waarheid te sê – of jy dit regkry binne ‘n jaar, of twee jaar, of dalk langer – dit is nie waarom dit gaan nie. En al sou jy vir ‘n paar dae, of ‘n week of twee dieselfde teksgedeelte, of paar verse lees, en lees, en lees, is dit steeds nie tydmors nie. Dit is dalk net die wyse waarop die Heilige Gees werk sodat ons kan hoor, en sien, en doen.
Die Bybel is, so glo ons, per slot van rekening die woorde van God aan mense. Die Woord wat lewe is en lewe gee. Wat Lig vir die mense is. Lig wat in die duisternis skyn, en nie deur die duisternis uitgedoof kan word nie – so begin Johannes sy Evangelie.
En in hierdie Woord en woorde van God kom God sélf deur sy Gees aan die woord in my en jou lewe. Ons gaan vir die volgende vier weke nadink oor en tyd spandeer aan gesprekke oor ons lees van die Bybel.
“Léés die Bybel!” is na alles nie so ‘n eenvoudige opdrag om uit te voer nie. Daarom behoort ons te gesels oor “wat” dit is wat ons lees. Ons behoort te gesels oor “waar” dit wat ons lees vandaan kom. Derdens vorm en voed wat ons lees ons gebedslewe. “Wat” ons lees, en “waar” dit ontstaan, behoort ons denke en taal en spraak te verander wanneer ons met God praat. En laastens, ons behoort te doen, en te lewe dit wat ons lees.
Vriende, ek nooi jou graag vir die volgende 4 weke saam op hierdie reis van ons “lees” van die Bybel. En vertrou dat jy God se mooiste Woord, Jesus, ons Here, in jou lees beter sal leer ken.




Comments