top of page

Ek het my stem verloor...


ree

Dit was nogal opvallend hoe ʼn klomp van die musiekbediening se sangers deur die loop van laat September en Oktober onttrek het van hul indelings vir Sondae, met die rede “my stem is weg”. Tussen die twee spanne vir elke Sondag, het dit vir my gevoel dat daar elke week ten minste een sanger was wat hul stem verloor weens een of ander siekte.

ʼn Paar weke terug kom die storie van Sagaria, Johannes die Doper se pa na my toe en die verband was vir my baie opvallend, want Sagaria het sy stem verloor.

Sagaria was ʼn priester in die tempel en die priesters se werk was om die volk te help om die offers te bring en om al die feeste wat God voorgeskryf het, te lei; soos ons musiekbediening. Baie mense sou wonder hoekom Sagaria en Elisabet nie kinders gehad het nie. Hulle kon dalk dink dat of Sagaria of Elisabet op ʼn manier deur God gestraf word. In daardie tyd was dit so belangrik om kinders te kry dat ʼn man selfs van sy vrou kon skei as sy nie swanger geword het nie.

Ons lees in Lukas 1 dat Sagaria die spesiale wierook offer in die heiligste dele van die tempel moes bring, toe ʼn engel hom daar ontmoet het en vir hom vertel dat hy en Elisabet ʼn seun gaan hê. Sagaria se eerste reaksie was dat dit onmoontlik was, want hy het gedink dat hy en Elisabet al te oud is! Die engel het toe vir Sagaria gesê dat Sagaria vir niemand van hierdie goeie nuus sal kan vertel nie. Hy gaan stom wees, omdat hy nie geglo het nie.

Maar voor die engel dit gedoen het, het hy vir Sagaria opdrag gegee dat hy die seuntjie Johannes moet noem en hierdie is ʼn baie belangrike naam. Dit beteken “God is genadig.” In daardie tyd was die mense in Juda nie baie gelukkig nie. Daar was paar jaar vantevore ʼn oorlog teen die Romeine en die Romeine het die lewe baie moeilik vir die Jode gemaak.

Die engel Gabriël het vir Sagaria verduidelik dat Johannes die antwoord op Sagaria se gebede was en dat Sagaria baie bly oor Johannes sal wees, maar dat Johannes ook vir baie mense in Juda blydskap sal bring. Gabriël vertel daarna dat Johannes groot in die oë van die Here sal wees en reeds van kleins af deur die Heilige Gees vervul sal wees. Dit sou hom die krag gee, sodat sy werk baie mense weer sal laat terugdraai na God toe, dat pappas en hul kinders se verhoudings gesond sal word, dat ongehoorsame mense sou verander en begin doen wat God vra en dat die volk gereed sou wees vir Jesus.

Ek vang myself dat ek my stem verloor het.

Ek is baie lief vir God en dit verander nie, maar soms glo ek nie dat God dinge sal doen wat die wêreld gaan verander nie en dan word ek stom – soos Sagaria. Maar Johannes is oppad! God is genadig en sy genade is oppad. God se werk groei op plekke waar ons nie altyd kan sien nie, soos die eerste paar maande van ʼn babatjie in ʼn mamma se maag. Die tyd word ryp en dan doen God die goed wat ek nie altyd glo nie – ten spyte van my.

Sagaria het nie stom gebly nie. Die oomblik nadat hy sy pasgebore seun se naam “Johannes” – God is genadig - op ʼn bordjie geskryf het, toe beweeg sy lippe en sy tong kom los en sy stembande vibreer met ʼn loflied dat God wat getrou is, dat hy sy beloftes hou, dat hy ons red en dinge doen wat ons nie altyd in glo nie (Lukas 1:67-79 - https://my.bible.com/bible/117/LUK.1.67-79.)

As jy in November voel asof jy jou stem verloor het, kom sing op 27 November saam by die Kerssangdiens. Kom vier in die Advent seisoen die hoop, geloof, vrede en vreugde wat met Jesus se geboorte inbreek in ons gebrokenheid. Ontvang God se genade, wat nie afhanklik van jou geloof is nie, maar ‘n geskenk van God is!

Shalom

Christi

Comments


bottom of page