top of page

Geloof soos Tomas


Steve Harvey, die Amerikaanse komediant, het skynbaar die grappie vertel dat die dissipel Tomas dit onnodig moeilik het, want hy staan bekend as ongelowige Tomas. Niemand praat van Onbetroubare Petrus, Kaal Markus of Jan Taks Mattheus nie...

Maar ek kan verstaan waar dit vandaan kom. Tomas het op die boodskap dat Jesus uit die dood opgestaan het reageer met die woorde: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie.” (Joh. 20:24)

Wanneer Jesus ag dae later weer tussen hulle kom staan, met Tomas hierdie keer teenwoordig, sê Jesus vir hom: “...moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.” (Joh. 20:27)

In hierdie gesprek gaan dit oor geloof wat ʼn oortuiging is, gebaseer op kennis en ervaring. Tomas se gebrek aan geloof in Jesus se opstanding was gebaseer op sy gebrek aan ervaring van Jesus se opstanding en sy kennis, dat as iemand graf toe gaan, bly hulle gewoonlik daar binne. Die ander dissipels het op grond van hulle ervaring vertel dat hulle vir Jesus gesien het. Johannes verduidelik ʼn paar verse vantevore dat “Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood moet opstaan nie” (v. 9) en per implikasie dat hulle kennis nog nie heeltemal by hul ervaring uitgekom het nie. Die dissipels se optrede – dat hulle die huis gesluit het omdat hulle bang was vir die Jode – sê dat hulle nog nie heeltemal geglo het nie.

Daar is tog ook ʼn ander deel van geloof wat ons in Tomas sien. Die Lutherse teoloog Andy Root, verduidelik dat geloof nie bloot kennis en vertroue is nie, maar ook geloofwaardigheid/betroubaarheid – "fidelity". Met belydenis van geloof sê jongmense nie net “ja” vir die kennis en vertroue nie, hulle sê ook “ja” as ʼn verbintenis van geloofwaardigheid en betroubaarheid. Hulle sê “ja” om in verhouding saam met God, die Bybel en die geloofsgemeenskap verder te leef en dis iets wat ons van Tomas sien.

Sy kennis en vertroue in Jesus se opstanding was aanvanklik nie heeltemal op standaard en genoegsaam nie, maar hy was op ʼn manier betroubaar aan die gemeenskap van die dissipels. Hy was nie by Jesus se eerste verskyning nie en ons weet nie hoekom nie.

Miskien het hy die geldsake by Judas oor geneem en was hy besig om voorraad te koop. Miskien was hy so verskrik dat hy eers uit Jerusalem gevlug het. Hoe dit ook al sy, ag dae later was hy weer tussen die ander van die gemeenskap, terug in die verhouding, betroubaar. Dis hier waar hy dan saam met die ander dissipels vir Jesus raaksien en sy kennis en vertroue aanpas.

Ek gesels gereeld met mense wat sukkel om in Jesus te glo. Ons kan die antwoorde van ons huidige Connect reeks “The Case for Easter” gee uit ons eie kennis en vertroue in die kennis, maar dan reageer hulle soms soos Tomas “voor ek nie sien en voel nie, sal ek nie glo nie.” Die ironie is dat hulle soos Tomas glo. Hulle is betroubaar aan die gemeenskap van gelowiges. Hulle kom op ʼn manier tuis. En dis juis dan waar hulle vir Jesus begin raaksien. Hulle sien vir Jesus raak in die Connectgroep wat vriendelik en gasvry groet by die deure. Hulle sien vir Jesus raak in die tieners en groepleiers wat by die jeugbediening die kinders na Jesus toe laat kom. Hulle sien vir Jesus raak in die hande wat speelgoed was by Sobambisana of enige ander manier hoe die gemeenskap van gelowiges geloofwaardig in verhouding met God, die Bybel en die gemeenskap leef.

Kennis en ervaring word dan aangevul deur saam-leef.

Mag ons geloof deur ons saam-wees groei. Mag Jesus meer en meer as die krag wat lewe gee in ons saam-wees herken word.

Groete

Christi

10 views

Recent Posts

See All
bottom of page