Geseënde Kersfees!
- bestuurder5
- Dec 9, 2022
- 3 min read

Een van die dae sê ons weer vir almal wat ons teëkom: “Geseënde Kersfees vir jou!” En gaan jy waarskynlik 'n soortgelyke seënwens terug ontvang. Maar wat bedoel ons tog as ons só kwistig hierdie ‘seën’ oor almal uitspreek?
Een van die plekke in die Bybel waar ek weet die woordjie ‘geseënd’ by herhaling gebruik word, is in Matt.5 wanneer Jesus die eerste keer in die publiek ‘n groot skare mense toespreek. “Geseënd, of salig, of gelukkig” sê Hy is mense wat oor sekere eienskappe beskik of sekere dinge beleef.
Nogals vreemd, nè? Ons sou verwag dat ‘n mens gelukkig of geseënd behoort te wees of te voel wanneer jy iets besonders bereik, of iets buitengewoon-waardevols besit. Ons het mos geleer dat dinge, ervarings, prestasies en suksesse vir ons gelukkig behoort te maak. En ja, dit kán vir jou vreugde verskaf, maar dit wil tog ook voorkom asof dit nie regtig blywende en duursame geluk bring nie.
‘n Insiggewende opmerking wat ek onlangs raakgelees het, is van die sielkundige, Ken Tangen. Hy sê: “Ons almal ontdek iewers in ons lewe dat blywende geluk nie in besittings of geleerdheid of sensuele of sensoriese opwinding te vinde is nie. Geluk lê in verhoudings. En die lewe se diepste geluk lê in die lewe se mees-toeganklike verhouding: dié met God, in en deur sy Seun, Jesus Christus.”
Die bekende Engelse skrywer, CS Lewis, het hierdie waarheid vroeër reeds só verwoord: “Dit is nutteloos om God vir geluk te vra solank ons nie ‘n lewe saam met Hom kies nie. Buite Homself kan God ons nie vrede en geluk gee nie, omdat daar eenvoudig nie iets ís soos geluk sonder God nie.” Dis dalk dáárom dat Jesus sy ‘seën-spreuke’ begin met “Geseënd is dié wat weet hoe afhanklik hulle van God is.”
Dis een van die dae weer Kersfees. Dis die tyd wanneer ons die vreugde vier wat gebore word in die wete dat Jesus Christus na die aarde gekom het – nié om te oordeel en te straf en te vernietig nie – maar om te red en heel en nuut te maak. Sy koms, en die Kersfeesgebeure, is die blye tyding van gróót blydskap wat vir álle mense bedoel is. Die heling en versoening wat Hy bring, is verniet en gratis en onverklaarbaar gróót. Dit gee lewe, dit gee hoop, dit sluit die toekoms oop, en maak dat baie dinge ánders lyk.
Dalk het ek en jy hierdie Kersfees nodig om wéér dit raak te sien én te hoor dat geluk rééds deel is van my bestaan. Dat ons nie naarstigtelik en benoud en angstig daarna hoef te soek nie. Jesus Christus, ons ewige Koning, kén my en jou omstandighede, omdat Hy elkeen van ons by die naam ken.
Hy het vir jóú na die aarde gekom om aan jou vrede, en vreugde, en seëninge in oorvloed te gee. Die Kindjie in die krip in Betlehem is die Gekruisigde op Golgota. En Hý is die opgestane Oorwinnaar wat met alle mag in die hemel en op die aarde beklee is om aan my en jou sy seën en geluk en vrede te gee – ook hier aan die einde van 2022.
Miskien is dít waarom Victor Hugo, die Franse skrywer-digter wat bekendheid verwerf het met sy boek en toneelstuk, Les Misérables (1802-1885), kon skryf: “Die hoogste geluk in die lewe (die grootste seëning wat jy kan ontvang – my invoeging) is die wete dat iemand jou liefhet soos jy is, of liewer: ten spyte van hoe jy is.”
Vriende, van almal in ons span wat elke week die Vrydagnuus getrou geskryf het - mag jy en almal wat vir jou dierbaar en geliefd is 'n baie geseënde en vreugdevolle Kersfees beleef. Mag Kersfees 2022 vir jou 'n innige en egte ervaring wees van die Drie-Enige God se oorrompelende en oorvloedige liefde wat in Jesus, die Kind van Betlehem, gestalte gekry het.




Comments