Groei begin buite jou gemaksone
- bestuurder5
- Mar 2, 2023
- 3 min read

‘n Gemaksone is die plek in ons lewens waar ons veilig en gemaklik met ons huidige situasie voel. Dis ‘n plek waar ons relatief min stres beleef omdat die omgewing, die mense en ons roetines bekend is. ‘n Gemaksone is nie noodwendig sleg nie maar indien ons te lank in ‘n gemaksone bly, begin dit ons persoonlike groei en ontwikkeling verhinder. As ‘n mens wil groei en nie stagneer nie, is dit onvermydelik dat ons dit moet waag om buite ons gemaksones te beweeg. As ons nooit bergklim nie – sal ons nooit ver sien nie!
In die Bybel lees ons dat God die mense wat hy oor die eeue heen gebruik het sonder uitsondering in posisies geplaas het waar hulle die bekendheid van hulle gemaksones moes verlaat. Dit het altyd gepaard gegaan met twyfel, vrees en onsekerheid. Ek noem enkeles:
o Noag moes ‘n ark bou in die middel van ‘n droogte
o Abraham moes sy bekende omgewing verlaat sonder om te weet wat sy bestemming was
o Moses moes ten spyte van ‘n spraakgebrek kritiese onderhandelinge met die koning van Egipte gaan voer wat die toekoms van ‘n volk sou bepaal
o Dawid moes ‘n swaargewapende reus met ‘n slingervel en klippe aandurf. Hy was ‘n skaapwagter wat op ‘n baie jong ouderdom die verantwoordelikheid van koningskap op hom moes neem
o Josef was ‘n bedorwe brokkie wat die moordgedagtes van sy broers moes oorleef. Hy moes later in Egipte op grond van vals aanklagte tronkstraf uitdien
o Maria moes as jong vrou glo dat haar buite-egtelike swangerskap God se plan met haar lewe was
o Die dissipels moes ophou visvang en “vissers van mense word”, moeilike omstandighede en vervolging trotseer en op die ou end as martelaars sterf
Hier waar ons leef en werk in die Wes-Kaap en in die wonderlike omgewing waar ons woon, is dit relatief maklik om ons gemaksones te beskerm en in stand te hou. As ons onveilig voel, rig ons heinings op en kontrakteer ons ‘n sekuriteitsmaatskappy om ons 24/7 te beveilig. As ons warm kry, sit ons ‘n lugversorger in. As beurtkrag ons verontrief, kry ons ‘n sonkragstelsel of ‘n kragopwekker. As ons kontantvloei druk, hou ons minder luuks vakansie. As ek oud en swak word, kry ek ‘n versorger om my tuis te versorg. As my kind begaafd is, reël ek ekstra Wiskunde klasse en kry ek ‘n professionele afrigter. As my motor waarde verloor, kry ek ‘n nuwe. As ek siek word en ‘n operasie moet ondergaan, kies ek die beste uit ’n paneel van spesialiste, skeduleer my operasie en my mediese fonds dek met enkele uitsonderings alles. Hoe kry ons dit reg? Want ons kan. Hoekom sê ek hierdie dinge? Ek wil myself herinner hoe verskriklik bevoorreg ons is. Maar bevoorregting het altyd ‘n keersy. Dit kan ons maklik gevange hou in ons gemaksones en veroorsaak dat ons nooit groei nie.
Intussen raak die wêreld en Suid-Afrika al hoe meer “ongemaklik.” Dit raak toenemend moeiliker om ons gemaksones te beskerm. Rondom ons gebeur al hoe meer dinge wat ons glad nie kan beheer nie. Dit maak ons angstig. Kom ek en jy kies pro-aktief om klein treetjies uit ons gemaksones te gee. Kom ons bou klein bruggies na die “ongerieflike” wêreld daarbuite. Ons hoef waarskynlik nie soos Paulus en die dissipels na die uithoeke van die wêreld te reis in navolging van Jesus nie. Maar ons kan selfs hier in ons gerieflike “borrel” waarbinne ons leef, ‘n brug bou na mense en groepe met wie ons normaalweg nie interaksie sou hê. Ons gemeente het hope geleenthede om jou te help brugbou. Val gerus in en groei saam met ons. Kom ons hou op om te vloek teen die donker en steek kerse aan!
Doen hierdie naweek iets anders as gewoonlik. Stap ‘n ander roete, klim letterlik of figuurlik ‘n ander berg. Spandeer tyd met iemand met wie jy normaalweg nie sou nie. Besoek ‘n plek waar jy nog nooit was nie. En... prys God vir die voorreg van elke groei-geleentheid.




Comments