top of page

#kenridgetieners ouerbrief (Gr 6-11) 24/05/2022


Liewe Ouers,


GRAAD 6 & 7:


Wat het ons geleer?

Ons het Sondag in ons groepe gesels oor deel twee van Moses se storie. Moses se storie is ʼn voorloper van Jesus se verlossing-storie. Die bloed van ʼn lam aan die deurkosyne het gemaak dat die dood verby hulle huise gegaan het – in Hebreeus is dit die woord peshach, wat ons in Engels vertaal as passover, waar die woord Paasfees vandaan kom.

Oor Paasnaweek het Jesus die Lam geword wat gemaak het dat die dood ook verby ons hou. Ons liggaam gaan in hierdie lewe eendag doodgaan om weer lewendig te word, soos wat Jesus opgewek is uit die dood.

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat God vir alle mense tweede kanse gee, selfs vir mense wat doelbewus teen God kies, soos Farao. God wil mense verlos.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor hoe die bloed van die lam/Lam maak dat die dood verby ons huis gaan.

  • Impak (Aksie en optrede): Die bloed aan die deur het gemaak dat die Israel-slawe kon vry kom. Jesus se bloed maak dat ons vandag vry kan wees van die dinge wat ons slawe maak.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan die video met ʼn opsomming van die storie kyk: kliek hier.

Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die maniere hoe julle agterkom dat God julle vry maak.

  • Vertel van ʼn keer waar jy al gevoel het of die Here jou lewe gered het?


Komende Sondag:

Ons gesels die volgende Sondag oor Jesus en die Romeinse offisier.



GRAAD 8-10:


Ons gaan verder met ons tema vir hierdie kwartaal “God se vingerafdrukke” wat handel oor God se genade. In die kerkjaar fokus ons op die oomblik op God se verlossing deur Jesus, saam met Goeie Vrydag en Paassondag en die temas volg hierdie gedagtegang. Ons het die afgelope Sondag gesels oor “Vingerafdruk van die Samaritaan” uit Lukas 10:25-37.


Wat het ons geleer?

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat Jesus ons wil gebruik om Sy vingerafdrukke van genade aan ander te gee.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor die mense vir wie ek ʼn naaste kan wees.

  • Impak (Aksie en optrede): Om my oë oop te hou vir mense en maniere om God se genade te bewys.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels.

Julle kan die pret video kyk om julle te herinner aan die storie of lees dit weer in Die Boodskap vertaling – kliek hier. Julle kan dan die volgende riglyne gebruik om te gesels:

  • Luister saam na die Examen-gebed en gesels dan oor die maniere hoe julle God se genade in julle lewens raaksien.

  • Waar het julle al ʼn Samaritaan-storie ervaar?

  • Wat maak dit vir jou moeilik om soos die Samaritaan te wees?


Komende Sondag:

Die komende Sondag is ons laaste byeenkoms vir die kwartaal met die tema “My Vingerafdruk.”

Ons nooi julle om saam met julle tieners om 18:30 die aanddiens by te woon. Die tieners sal dan na die lofprysing en die preek uitgaan na hulle groepe, waar hulle tot ongeveer 20:00 saamkuier.



GRAAD 11 (Belydenisklas):

Ek Glo - Belydenisklas ouerbrief


In die kerkjaar fokus ons op die oomblik op God se verlossing deur Jesus, saam met Goeie Vrydag en Paassondag. Daarom hanteer ons temas wat hierby aansluit. Ons het Sondag oor die 10 gebooie gesels. In die Heidelbergse Kategismus staan dit bekend as een van die "bronne van dankbaarheid" m.a.w. die riglyn vir 'n gepaste reaksie op God se verlossing. Ons kan amper daaraan dink in die volgende terme:

Omdat God ons gered het, wil ons God liefhê deur...

Omdat God ons liefhet, wil ons ander mense liefhê deur...


Wat het ons geleer?

  • Verstaan (Kennis, feite, insig): Om te ontdek dat die 10 Gebooie ons help om dankbaar teenoor God te lewe, omdat God ons verlos het.

  • Refleksie (Persoonlik insig en wysheid): Om te reflekteer oor hoe ons dink oor reëls en riglyne.

  • Impak (Aksie en optrede): Om die 10 gebooie nie bloot as moets/moenies te sien nie, maar as ʼn uitnodiging na ʼn nuwe manier van lewe.


Saamdoen:

Ons wil julle as ouers aanmoedig om iewers gedurende die week ʼn koffie-afspraak met jou tiener te maak en dan weer oor die tema te gesels. Julle kan weer deur die teks lees – kliek hier.

In die groep het ons gesels oor maniere om die 10 gebooie positief te stel. Gesels weer oor maniere hoe dit ʼn uitnodiging is na ʼn goeie lewe.


Komende Sondag:

Die komende naweek besoek ons die Anglikaanse Kerk in Bellville. Ons tref die detail reëlings met die groep op hulle WhatsApp groep. Julle as ouers is baie welkom om saam met ons te gaan kuier.


Shalom

Christi Thirion


2 views

Recent Posts

See All
bottom of page