Jesus het mens geword omdat God die wêreld so liefhet. En God is liefde. Maar liefde behoort nie net oor Kerstyd te geld nie. Liefde moet altyd die toonaard van die lewe wees. Liefde staan vir gelowiges in hoofletters oor die hele jaar en die hele lewe geskryf. Kerstyd is ‘n vrygewige, gemoedelike seisoen wanneer God se liefde maklik momentum bykry as almal blymoedig saamdoen, gee en omgee.
Ek lees anderdag ‘n grappie wat my lekker laat lag het. Die man het blykbaar vir sy vrou vertel dat hy vir Kersfees ‘n tablet wil hê. Sy vra toe watse tablet hy wil hê? Wil hy ‘n Panado hê of ‘n Nurofen of ‘n Myprodol? Waarop hy toe antwoord dat sy verkeerd verstaan. Hy wil ‘n Samsung Tablet hê. Toe verduidelik sy vir hom dat hy verkeerd verstaan. Dit is nie sy verjaardag nie. Dit is Jesus se verjaardag.
‘n Mens kan Paulus se lied oor die liefde in 1 Korintiërs 13 gebruik as ‘n roeping en ‘n rede om liefdesbrûe te bou. Vervang die woord ‘liefde’ telkens met ‘Jesus’ en jy sal beleef dat jy aangespoor word tot ‘n lewe van liefde. Want gelowiges word geroep om in Jesus se spore te volg. Hy het in Johannes 15 gesê: Dit is my opdrag: Julle moet mekaar liefhê soos Ek julle liefhet.
‘Jesus is geduldig, Jesus is vriendelik; Jesus is nie afgunstig nie, Jesus is nie grootpraterig nie en Hy is nie verwaand nie. Jesus handel nie onwelvoeglik nie, Hy soek nie sy eie belang nie, Hy is nie liggeraak nie en Hy hou nie boek van die kwaad nie. Jesus verbly hom nie oor onreg nie, maar Hy verheug hom oor die waarheid.
Jesus bedek alles,
Hy glo alles,
Hy hoop alles,
Hy verdra alles.’
Paulus doen in Romeine 13 ‘n beroep op alle gelowiges om die wet te vervul op ‘n nuwe manier: ‘Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die wet.’
Gebed
Here help ons deur U Gees om mekaar lief te hê soos wat U ons liefhet.
Amen.
Comments