top of page

leef met integriteit


Deur Dave Viljoen





ree





Rut en Boas word beide in die Bybel se oorspronklike taal beskryf as mense wat hayil was. Dit is een van daardie betekenisvolle woorde wat moeilik met net een term vertaal kan word. Die verskillende Bybelvertalings gebruik woorde soos eerbaar, eerlik, vermoënd, invloedryk, bekend, goed, dapper of deugsaam om hayil mee te vertaal (2:1 en 3:11).

Dit is dieselfde woord wat gebruik word om die ideale vrou in Spreuke 31 mee te beskryf. In die Hebreeuse Bybel is die boek Rut net na Spreuke 31 geplaas. So asof Rut die karakter moes wees wat al die deugde van Spreuke 31 se deugsame vrou moet beliggaam en verduidelik. Terloops, my vrou is mal oor een van haar deugde. Die een in Spreuke 31:18 in die Living Bible. Daar staan: "She looks for bargains."

In ons Bybel verskyn die boek Rut net na Rigters omdat daar in Rut 1 staan dat hulle storie in 'die tyd toe die Rigters regeer het' afspeel.

'n Lutherse predikant, Kathryn Schifferdecker reken dat daar tog 'n term is waarmee hayil vertaal kan word. 'n Woord wat presies vir Rut en Boas beskryf. Dit is die woord INTEGRITEIT.

In Rut en Boas se lewe lyk dit of die grondwerk waarop die woord integriteit gebou is:

• stewige hoeveelhede geloof in die Here,

• versorgende liefde,

• betroubaarheid al gaan dit hoe moeilik,

• hoop al tref ellendes hoe hard,

• eerlikheid wat soos lense deurskyn en

• emmers vol fluksheid is.

Een van ons kernwaardes by Kenridge is juis: Ons leef met integriteit! Susan, Melanie en Christi borduur Sondag by die verskillende dienste voort oor Rut 3. Kom luister en geniet dit gerus saam!

Lekker naweek verder.


 
 
 

Comments


bottom of page