Moenie bang wees nie
- bestuurder5
- Nov 25, 2022
- 2 min read

Ek onthou ‘n klompie kere waar dit gebruik was om mense bang te maak om die goeie orde te handhaaf. In standerd vyf moes die Sub A seuns banggemaak word. In matriek moes die standerd sesse banggemaak word. In die weermag moes die nuwe troepe banggemaak word. Op Universiteit moes die eerstejaars banggemaak word.
By skoolverwisselings- en skoolverlaterskampe moes die aankomelinge eers banggemaak word. Hoekom? Sodat almal mekaar goed leer ken, mekaar aanvaar, lekker inskakel en by die reëls bly.
Die goeie nuus is dat die Here heeltemal anders werk met mense. Hy hoef nie eers vrees in te boesem nie. Toe Hy in Lukas 2 ‘n nuwe begin met die hele aarde aangekondig het, het Hy vir die skaapwagters die teenoorgestelde gesê: “MOENIE BANG WEES NIE.” En net daarna: “want kyk, ek bring vir julle 'n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!”
Hy het dieselfde met Sagaria (1:13) en met Maria (1:30) gedoen. Die goeie nuus gesprekke van nuwe geboortes het by hulle ook so begin: “Moenie bang wees nie, Sagaria” en “moenie bang wees nie, Maria.”
Probeer saam met my om van hierdie Kersfees af mense in jou teenwoordigheid se vrese te tem en af te bring eerder as om dit op te jaag. En probeer saam om hulle soos Jesus gemakliker te laat wees omdat sy juk sag is en sy las lig. Hy handhaaf liefde en genade en nie koue oorloë of militêre orde nie. Hy is sagmoedig en nederig van hart (Mattheus 11). Hy oorrompel mense met innige simpatie.
Sien jou Sondag by die Kerssangdienste!




Comments