top of page

My beker loop oor

ree

Ons tema vir hierdie week handel oor die geloofswaarde dat dit gelukkiger maak om te gee eerder as om te ontvang. Dit is presies wat Paulus in Handelinge 20 vir die ouderlinge in Efese gesê het. Volgens Paulus is dit niemand minder nie as Jesus se woorde.

 

“Dit is die bietjies in die lewe wat uiteindelik iets baie maak, dit lei na die meeste toe en dit is waar ek wil wees - tussen stukkies bietjie wat my beker laat oorloop het.”

(Geelchaos.)

 

Die Here gee so baie genade en liefde. Die Here is 'n gee-Here, baie meer as 'n ontvang-Here. Dawid beeld dit in Psalm 23 treffend uit!

 

Sommige mense is van nature pessimiste. Hulle is analitiese mense wat op die fynste van fyn besonderhede let en alles kan sien wat moontlik verkeerd kan gaan. Ander mense is van natuurlike optimiste – die dromers wat drome droom. 

 

Maar, daar is ‘n derde soort mens…

 

Jy het ongetwyfeld al gehoor dat jy óf ‘n glas-half-leeg- óf ‘n glas-half-vol-persoon is. Dit is tog hoe mense beskryf word. Ek is die half-vol-glas soort ou. Selfs wanneer die situasie nie noodwendig ideaal is nie, soek en vind ek die geleenthede. Maar om dit te balanseer, sorg ek dat ek myself met ‘n paar half-leë-glas-mense omring om my voete stewig op die aarde te hou.

 

Nou wie is hierdie derde soort mense wat heeltemal anders is? Ek noem hulle die ‘beker-loop-oor’-mense, soos ons lees in: Psalm 23:5,6:

 

“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die Here bly in lengte van dae. (1953)

 

Dis ‘n Psalm van Dawid; die ou wat meer vyande gehad het as wat ek en jy op albei ons hande kan tel. Hy het geleer dat God altyd met hom is; dit maak nie saak hoe haglik sy omstandighede was nie. 

 

Kyk net na die beeld wat hy gebruik:

“U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders.”

 

Die vyand se leër storm op hom af, maar God het ‘n tafel vir hom gedek – ‘n fees en ‘n feesmaal vir hom voorberei. Dawid sien nie die beker as halfvol of halfleeg nie. Sy beker loop oor. Hoekom? Omdat hy weet dat God ook in daardie moeilike situasie by hom is.

 

Soos Dawid, sien jou skape raak, nie net die jakkelse nie. Soos Dawid, sien die tafel raak en nie net jou teenstanders nie. Dit was die bietjies in Dawid se lewe wat bietjie vir bietjie uiteindelik sy beker laat oorloop het. As die Here jou Herder is, is daar genoeg in jou huis, méér as genoeg.

 

Gebed:  

 

Here, baie dankie dat u genade vir ons genoeg is. Dankie dat u ons bekers laat oorloop. Help vir ons ook om eerder te gee as om te ontvang.

Amen

 


(erkenning vir raadpleging aan ‘God se Woord vars vir jou vandag’)

Comments


bottom of page