'n Vreemde Koning
- bestuurder5
- Oct 3
- 2 min read

Jesus Christus, die Koning van alle konings, is verhewe bo alles wat ons oë kan sien en ons verstande kan verstaan. Hy is nie ’n Koning wat troonkamers of paleise nodig het om sy majesteit te bewys nie. Sy troon was 'n kruis en sy koningskap die gestalte van 'n slaaf maar Hy heers oral op die aarde – tot in elke uithoek.
Hy is die Koning van die hele heelal en van die kleinste detail in jou lewe. Geen ster beweeg sonder sy bevel nie, en geen traan val sonder dat Hy dit raaksien nie. Konings in hierdie wêreld kan hul mag verloor maar sy gesag bly onwankelbaar en vir ewig.
Oral waar sy Naam genoem word, buig mense in aanbidding. In die lofliedere van kore, in die fluistergebede van ’n kind, in die dankbaarheid van ’n geredde mens – oral word sy koningskap erken. Hy is die Koning wat nie ver en verhewe is nie maar naby, in die stilte van jou hart en in die ongemak van die lewe.
Sy kroon het nie goud en edelgesteentes nie maar liefde, dorings en opoffering. Sy septer is reg en geregtigheid vir die onderstes. Hy het gekom om gevangenes vry te maak, blindes te laat sien en stukkendes te genees.
Hy het Homself as Koning bewys toe Hy op water geloop het maar ook toe Hy die duiwels uitgedryf het. Toe Hy sy kruis gedra het, het die hemel en die aarde kennis geneem van sy liefde. Toe Hy opgestaan het uit die dood, het sy gedugste vyand geval. Hy bly die Koning van waarheid, die Koning van genade en die Koning van liefde. Hy bly die vreemde, nederige Dienskneg Koning wat Homself leeggemaak het van Homself sodat alle mense gered kan word.
“Aan Hom behoort die koninkryk en die krag en die heerlikheid – tot in ewigheid!”
Gebed: Here help ons om so nederig soos U, u koninkryk te laat kom en u wil te laat geskied.
Amen




Comments