top of page

Sukses is nie 'n naam van God nie


ree

In ‘n aansoekproses vir ‘n predikantspos word daar aan die kandidate gevra: Wat beplan jy om in jou eerste 90 dae in die pos te doen? Hoe gaan jy hierdie plan realiseer? En: Hoe gaan jy weet of jy suksesvol was? Dis waarskynlik heel-gepaste en billike vrae om aan enige kandidaat te vra wat aansoek doen om ‘n betrekking in ‘n maatskappy of organisasie. Daarmee wil moontlik vasgestel word tot watter mate die kandidaat belyn is met die doelwitte en etos van die organisasie en hoe hy of sy beplan om waarde toe te voeg tot die huidige stelsel. In een van sy boeke verwys Prof Dirkie Smit (wat as ‘n gerespekteerde en wêreldbekende dogmatikus erken word) na die Joodse filosoof, Martin Buber, wat geskryf het: “Sukses is geen naam van God nie.” Die vraag wat hy beredeneer, is ‘n moeilike een: Wat is menswees eintlik? Wat is sukses? Wat is geluk? Wanneer wen jy, en wanneer verloor jy? Wanneer is jy dus regtig geslaagd? Hy brei dan die vraag uit na die ruimte van die geloof. En na gelowiges, gemeentes, geloofsleiers. En maak die volgende waarneming: Vir baie – óók in kerklike kringe – het prestasie, voorspoed, seëninge, verbruik, besit, gesondheid, mag en outonomiteit die bepalende dryfkrag geword. Sukses het God se énigste naam geword. Die geestelike tradisies, én die Bybel, neem egter ‘n ander standpunt in en leef volgens ‘n ander waardesisteem. In Matt.16:24-26 verduidelik Jesus aan sy dissipels hoe ‘n lewe lyk wanneer jy kies om Hom te volg: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, sy kruis dra en My volg, … Want wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry, maar sy lewe verloor, of wat sal ‘n mens gee in ruil vir sy lewe?” Die woorde van die Duitse teoloog, Dietrich Bonhoeffer, in sy boek “The Cost of Discipleship”, eggo dieselfde beginsel: “When Christ calls a man, He bids him come and die.” Dit is nie ydele of leë woorde in Jesus se mond, of ietsie moois wat Bonhoeffer geskryf het nie. Jesus het présies dít gedoen wat Hy van sy volgelinge gevra het. Hy het sy lewe opgeoffer, sy absolute mag prysgegee, die wil van God gehoorsaam, en die dood van ‘n oënskynlik-mislukte bendeleier gesterf. Vir die Jode was sy kruisdood ‘n aanstoot en vervloeking, en vir die geleerde Grieke absolute onsin (1 Kor.1:23-25). Maar in God se koninkryk, wat die ganse wêreld en skepping omspan, het dit die oorwinning van God oor die bose aangekondig, die oormag van Christus oor die dood, genade vir die verlorenes, en lewe vir die dooie. Daarom is die Lam wat geslag is ook die Leeu uit die stam van Juda wat oorwin (Openb.5:5-6). Oomblikke, of tye en ervarings van sukses en prestasie en oorwinning kan ‘n mens vernietig, jou siel ontspoor, jou bedwelm om te dink dít is hoe die lewe moet lyk – vir jóu, en álmal rondom jou. Oók in die kerk. Is dít egter hoe die Here wil hê dat ons moet lewe en die lewe sien? Ek wonder wat sou gebeur het as ‘n kandidaat in die proses hierbo sou antwoord: “Ek sal in die eerste 90 dae die liefde van Christus na die beste van my vermoë probeer uitleef, soveel as moontlik daaroor praat, die genade van God teenoor almal betoon, diensbaar wees waar ek kan en waar ek nodig is, tot die Gees bly bid vir onderskeidingsvermoë en insig, passie en deursettingsvermoë om te bly liefhê, te bly troos, te bly aanmoedig, reg te help, en ook tereg te wys waar dit nodig is.” Sou dít as sukses beskou kon word? Of die uitkomste daarvan enigsins gemeet kon word sodat dit ‘n aanstelling kon regverdig? Ek wonder sommer net. Jurie

Comments


bottom of page