top of page

U het al die seisoene van die aarde vasgestel


Dit is middel-Maart. Die wolke het my wakker geraas. Nog voordat my wekker kon kans kry, het die donderweer my wakker beveel. Na die donderweer se besliste opdrag het ek eers besluiteloos bly lê. Ek het uiteindelik gekies om, na die derde slag, op te staan. Die onweer en die donderweer het daarop aangedring.

Ek staan op. Een oog is oop en die ander oog is nog toe. Dit is alwéér asblikdag. Ek het amper vergeet dat die trokkie vandag sy rondte ry. Ek jaag om my sak uit te sit. Ek druk die deur vinnig agter my toe. Ek maak wel my venster oop. Wawyd oop. Ek ruik die reën en groet die Here van die grys hemel. Dit is vanoggend koel. Eintlik, koud…

Ek is vaak. Ek kook die ketel. Ek gesels met Meneer Herfs, gaap groot en sê vir hom dankie dat hy so getrou sy besoek kom aflê. Die wind waai deur my venster. Meneer Herfs hou sy hande bak om my wange.

Die vygies op die voorstoep drink dankbaar aan hulle druppels. Ek staan lank stil en staar na die water wat die droë en dor gras weer een skakering groener maak. Ek moet myself - soms meer gereeld as minder - hieraan herinner: wat nou droog en dor lyk kan met een goeie reënval weer groen wees. Somer en haar verskriklike hitte staan altyd terug vir Herfs wat weer vriendelike verligting bring. Maar, die grys kan my maklik oorweldig. As die son vêr voel en die breë hemel bleek lyk, sukkel ek om te glo in goud en in geel. Ek gaan sit kruisbeen op my mat met my koppie koffie en blaai deur my Bybel. My boekmerk is ‘n bruin blaar wat Meneer Herfs vir my geskenk gegee het.

Herfs troos my deur die venster en vertel vir my dat elke seisoen sy voordeel inhou. Ek vergeet dat die grys hemel die aarde weer groen maak. Ek vergeet dat die reën die getroue boog van ons getroue God weer die geleentheid gee om ‘n verskyning te maak. Ek vergeet dat die donderweer vir die Suidooster ruskans gun en gee. En die geel en die goud syfer altyd deur as jy lank genoeg kans gee vir Herfs om hier tuis te kom. Want, ons Here se hart klop kleur. Herfs is kompleks. Herfs is kuns. Herfs is grys - én geel én goud. Oranje ook!

Ek het besluit om Meneer Herfs in te nooi vir ‘n koppie koffie. Ek het hom omhels en saam het ons op my mat gesit. Hy wys vir my Psalm 74: 17:

“U het al die seisoene van die aarde vasgestel; somer en winter is die werk van u hand.”

En so ook herfs en lente!

(Daar hoor ek die trokkie wat verby ry. Ek was net-net betyds!)

Groete van my en Meneer Herfs. Môre daag hy dalk voor jou deur op!

23 views

Recent Posts

See All
bottom of page