top of page

Vashouplek


Menige fotograaf het hierdie tyd van die jaar in die agterkop om die Hexriviervallei te gaan besoek. Die rede is dat die tafeldruiwe wingerde verkleur en laat die ‘Vallei soos ʼn lappieskombers van geel en rooi en roesbruin lyk. Tafeldruiwe word bietjie anders as wyndruiwe verbou. As jy daar tussen die tafeldruiwe wingerde loop kom jy agter dat die wingerde amper soos ʼn prieel of ʼn wingerd-afdak lyk. Daar is paal strukture en drade waarin die wingerd forseer word om op ʼn sekere manier te groei. Die wynwingerd wat ons so goed ken, lyk eerder soos gangetjies. Elke soort wingerd word op ʼn sekere manier gevorm en gelei, sodat die druiwe vir die doel ʼn spesifieke vorm en geur sal ontwikkel.    

 

In ons agterplaas, aan die hoër gedeeltes van Majik Forest kan jy nog die oorblyfsels van boerdery aktiwiteite sien. Daar is wilde wingerd wat steeds groei. Mens herken dit amper nie – die blare is aansienlik kleiner aan die wilde lote en die druiwe self lyk maar meer soos bessies en as jy dit al geproe het (die voëls sorg gewoonlik dat die kans skraal is daarvoor) sal jy met my saamstem dat mens die smaak as druiwe herken, maar die doppe is nogal hard en veroorsaak ʼn bitterige nasmaak. Hierdie bos stokke groei met vryheid, maar die vryheid kom ten koste van die vrugte.

 

In Latyn word die struktuur waaraan die wingerd moet rank ʼn regula  genoem. Jy sal dit ook raaksien binne-in die Engelse woorde regulate en regulation. Dit was ook die term wat die woestynvaders en moeders gebruik het om die patroon of gemeenskaplike gewoontes vir geloofsvorming te beskryf. Die bekendstes was waarskynlik die van St. Augustinus en St. Benedictus en dit was gereelde (sien reël as die stamwoord) periodes van gemeenskaplike en persoonlike tye van gebed, slaap, geestelike lees (Bybelstudie, asook geestelike boeke) en handearbeid.

 

Wanneer ons in ons verhouding met God dink aan “reël” en “reëlings” mag dit teenstrydig voel met die boodskap van vryheid in Jesus. Dit mag dalk ook in ons samelewing klink of dit nog iets is bo-op alles wat ons moet ken, weet en regkry. Die idee is dat ons (soos plante) groei en verander. As daar geen orde is nie, kan die groei wat veronderstel is om vrugte te produseer verander in 'n gedraaide wingerdstok van verval.

 

Ons het in die naam van vryheid ʼn klomp “reëls” (die gewoontes en ingeoefende liturgieë en gebruike) eenkant toe geskuif, want reëls het beperkend en vir sommige selfs onrealisties geword. Maar ons is gewoonte-diere. Ons breine is masjiene wat toekomsvoorspelling doen en wanneer ons nie doelbewus in ritmes leef nie, pas ons bloot aan by die ritmes wat ons sien.

 

Die ritme wat ons sien is baie kere ons werk en ons selfoonskerm – soms ʼn kombinasie daarvan. Die vrug van hierdie “natuurlike” ritme is al die angs, depressie, verbruik, ongeregtigheid en selfgesentreedheid wat so tipies is in die hedendaagse Westerse lewe. Vrugte wat ʼn bitter nasmaak los.

 

Die doel van die struktuur en drade in die wingerd is sodat die tafeldruiwe groot, geurige en kleurvolle druiwetrosse sal wees. Dan maak dit ook heerlike skaduwee in die somer, die kleurvolle prent in die herfs en in die winter, wanneer die wingerd gesnoei word, heerlike vuurmaakhout. Die raamwerk maak die vrug van die wingerd veel meer as wat dit aanvanklik voor bedoel was.

 

Vir ʼn lewe van betekenis – waarna soveel van ons jaag – is dit betekenisvol om te dink aan die raamwerk van ons dag-tot-dag gewoontes waarin ons ons lewe laat groei. Mag ons reëls en ons reëlings ons help om vrugte te dra wat soet en helend is, maar wat ook voordeel het op plekke wat ons nooit aan kon dink nie.

 

Om verder hieroor na te dink kyk gerus na

The Common Rule: Habits of Purpose for an Age of Distraction. Deur Justin Whitmel Earley https://www.thecommonrule.org/

 

Of

Practicing the Way: Be with Jesus. Become like him. Do as he did. Deur John Mark Comer

 

9 views

Recent Posts

See All
bottom of page