top of page

Daar is Lig!


Al vier die Evangelies beskryf die Sondagoggend ná die onmenslike gebeure van die Vrydag op Golgota naastenby dieselfde: “Die Sondagmôre vroeg, toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf …” (Joh.20:1); “Die Sondagmôre baie vroeg het die vroue na die graf toe gegaan …” (Luk.24:1); “Die Sondagmôre baie vroeg kom hulle (die vroue) by die graf aan net toe die son opkom.” (Mk.16:2); “Ná die sabbatdag, toe dit die Sondagmôre begin lig word, het (die vroue) na die graf gaan kyk.” (Matt.28:1)

 

Bedroef, teleurgesteld, verslae kom van Jesus se getrouste volgelinge by die tuingraf aan. Die opkomende son kondig die nuutheid van nóg ‘n dag aan.

 

Ons wéét nóu wat hulle nié geweet het nie. Alhoewel die son se groeiende lig hulle wil herinner aan God se durende sorg en getrouheid, het duisternis in hul harte kom woon.

Ek en jy kom soms, of dalk meer dikwels as wat ons sou kies, in sulke plekke waar die duisternis jou omvou en te kenne wil gee dat nét die duisternis bestaan. Daar ís nie lig nie – kán en sál ook nie weer wees nie.

 

Wanneer ek en jy deur die duisternis oorweldig word, en dit voel asof die lewe uit jou gewurg word, sou jy jouself daaraan kon oorgee en opgee.

 

Daar is egter ook die misterie van die dag wat breek, die son wat die duisternis verdryf, lig wat al ligter raak. Sodat jy kan sien - saam met die vroue destyds – die graf is oop! Die graf is leeg!

 

Die Here leef! Hy het opgestaan! Hý het oorwin, en Hy gee aan mý lewe, oorwinning, die nuwe, en núútheid. Ek kan sien, en hoor, en beleef, en verstaan wat Paulus geskryf het in Rom.8:37 – “Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet.”

 

Kyk wéér, en lees wéér: “deur Hom wat vir óns liefhet.

 

Dis omdat God só liefhet, dat Christus die duisternis se mag verbreek het, en sý lig gebring het. Sodat ék en jý – toe die Son opkom in ons lewe – kan sien: my graf is óóp – ek kan léwe.

Ek kan op my knieë neersak en bely: “Dankie, Here Jesus, dat U, die Môrester, ook in mý hart opgekom het.” (2 Pet.1:19)

 

My gebed vir jou is dat Christus, die Ewige Lig, jóu lewe sal verlig, en lig sal maak.

5 views

Recent Posts

See All
bottom of page