top of page

Humor help ons in moeilike tye


As daar één ding is waarmee ons Suid-Afrikaners goed is, dan is dit om humor te gebruik in moeilike omstandighede. Ek kan amper nie aan een groot wêreldgebeurtenis of tragedie dink sonder om ook te dink aan die gepaardgaande Afrikaanse grappies, wat binne enkele ure op sosiale media en whatsapp gesirkuleer is nie. Die 911-aanvalle, die Oscar Pistorius-sage, beurtkrag, Zuma se swembad, selfs die beweerde opmerkings van ‘n Springbokhaker tydens die wêreldbeker semi-finaal – elkeen is deur Suid-Afrikaners begroet met die hulp van ‘n stewige dosis unieke grappies.

 

Natuurlik kan ons met reg onsself afvra of hierdie grappies nie onvanpas is nie. Is dit reg om te lag wanneer mense siek is en sterwend is; wanneer daar onmeetbare swaarkry in die wêreld is? Daar is baie dinge in hierdie lewe wat glad nie snaaks nie.

 

Maar baie dinge is wel snaaks.

 

En wanneer ons begin swaar kry, draai mense dikwels instinktief na humor om hul pyn te verlig. Prediker 3:4 sê, “daar is ’n tyd om te huil, 'n tyd om te lag, 'n tyd om te treur, 'n tyd om van blydskap te dans…”

 

In hierdie woorde sien ek dat die skeidslyn tussen lag en huil, tussen vreugde en rou, tussen blydskap en hartseer is dun en porieus; en dat hierdie lyn dikwels in ons lewens verder vervaag wanneer ons swaar kry.

 

Om te lag is goed vir ons. Dit is al deur verskeie studies bevestig dat om te lag ons fisiese en psigiese welstand bevorder. Daar is aanduidings dat dit ons stresvlakke laat daal, ons bloeddruk verlaag en selfs ons imuunstelsel ‘n hupstoot gee.

 

Die wetenskap ondersteun hier net wat die Bybel al vir eeue weet, want in Spreuke 17:22 staan daar, “’n Vrolike mens is soos goeie medisyne. ’n Neerslagtige mens tap jou krag.” Om lekker te lag kan nie elke liewe siekte genees nie, maar dit kan ons beslis laat beter voel. En danksy God se goedheid is hierdie medisyne beskikbaar in goeie sowel as slegte tye.

 

Ek het onlangs saam met goeie vriende ‘n aand van uitspattige humor en lekker lag beleef – die genesende krag van hierdie ervaring het ek eerstehands aan my eie liggaam en in my eie gemoed beleef. Om te lag help ons beslis in uitdagende omstandighede. Daarom, hou aan lag; wanneer dit goed gaan én wanneer dit swaar gaan.

 

Om werklik te lag hou ons nederig. Van die snaaksste mense wat ek ken is nederige mense. Dit is mense wat maklik vir hulself lag en jou dan uitnooi om sáám te lag, maar dis nie mense wat sommer ten koste van ander sal lag nie. Dít is die God-vresende manier om snaaks te wees: om jouself nie té ernstig op te neem nie en om te kan spot met jou eie foute en tekortkominge.

 

En juis hierin word die toestand van ons hart ontbloot: ons maak nie staat op ons eie krag en ons eie vermoëns nie; ons maak staat op God s’n. Trouens, ons wéét ons eie krag is nie genoeg nie; dis so min dis eintlik lagwekkend, maar God se krag is onuitputbaar. En dit is omdat ons hierdie geheim ken en omdat ons vreugde daarin vind om van God afhanklik te wees, dat ons kan lag selfs wanneer dinge moeilik gaan. So eintlik is Christene die mense wat werklik kan sê: hulle weet nie wat ons weet nie!

 

Kom ons wees nou eerlik: die wêreld is nie soos dit veronderstel is om te wees nie. Aan die ander kant: dis ook nie so sleg soos wat dit kan wees nie. So of ons tans die goeie van die lewe smaak en of ons nou die slegte, bitter kant van die lewe beleef: kom ons lag solank as wat ons kan…

8 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page