
Matteus 6:19-34
Wanneer ons 'n gedeelte soos hierdie een van Matteus lees, dwing dit ons tot stilstand. Van ál Jesus se opmerkings in die Bergrede, is hierdie een van die moeiliker gedeeltes om te verstaan. Jesus se woorde lyk totaal uit pas met ons samelewing. Soos Ulrich Luz dit sê:
“When interpreted in a superficial manner, these remarks (of Jesus) could only have been written by a single guy living a carefree life on the beach in sunny Galilee.”
Die samelewing het baie verander sedert die tyd van Jesus. Die definisie van armoede en welvaart en die aard van ‘n goeie lewe is baie anders vandag. Byvoorbeeld, ons word voortdurend gebombardeer met beelde en boodskappe van die media wat ons aanmoedig om te verbruik. Verder kan sulke boodskappe ons onvergenoegdheid laat voel op grond van dit wat ons het in die hoop om meer te kry.
Die ander kant van hierdie som is die harde werklikheid van ekonomiese mislukking. Ons almal ken die hartseer stories van huishoudings wat gebuk gaan onder finansiële krisisse, en is bewus van die hartverskeurende gevolge van armoede en werkloosheid. Ons het 'n wêreldekonomie wat (goed of sleg) afhanklik is van verbruikers om kop bo water te hou. As gevolg hiervan, leef ons met teenstrydige boodskappe en bekommernisse wat ons lojaliteit betref. Ons soek sekuriteit en stabiliteit en is tereg bekommerd oor ons toekoms.
So wat is aan die gebeur in hierdie gedeelte? In vers 24 sê Jesus dat ons nie God én Mammon kan dien nie. Die implikasie is dat ons moet kies. As jy nie baas is oor jou geld en goed nie, sal dit jou baas word.
Beteken dit dat die strewe na rykdom deur middel van harde werk en beleggings verkeerd is? Of dat ons nie die vrug van ons arbeid mag geniet nie?
Nee. Jesus roep ons nie om ons bankrekeninge leeg te maak, of om te gaan bly in ‘n klooster in die woestyn nie. Inteendeel, wat Hy aanspreek is ons oormatige bekommernis en angs wat ontstaan as gevolg van 'n lewe sonder Hom. Die teks roep ons na 'n ander stel waardes en prioriteite.
Jesus lewer hier ‘n kragtoertjie in retoriek (verse 25-34) oor ons verknogtheid aan goeters, ons bekommernis oor hongerly, ons fokus op opgaar. Dis poëtiese taal: vol singende klanke en simboliek. Die beeld in vers 26 oor saai en opgaar, is sterk manlik. Die beeld oor lelies (vers 28) wat nie weef en klere maak nie, is tipies vroulik vir die tyd. Dis meesleurende woorde; dit laat ons vir ‘n oomblik naïef droom oor ’n sorgvrye lewe. Maar dis terselfdertyd irriterend! Want dis tog logies om te sorg vir die toekoms? Dis tog in ons DNA ingeweef. Die realiteit is dat ons swoeg en in die sweet van ons aangesig brood op die tafel het. Ek bedoel, net om ’n werk te behou, kinders groot te maak en dalk eendag te kan aftree, vat hope energie. Weet Jesus dit dan nie? Hoe kan Hy sulke goed kwytraak?
Lyk my dit gaan daaroor om te ‘disconnect’ van ‘n hiërargiese sisteem in die wêreld van compete, compare & control wat angs en bekommernis aanblaas. En om te help skep aan ‘n nuwe realiteit waartoe Jesus my nooi: Om my nie bekommer nie, maar te beywer vir die Koninkryk van God. Dit is ‘n realiteit waarin 'n mens die woord en lewenshouding bekommer met die woord en lewenshouding beywer vervang. Waar angs en bekommernis oor die alledaagse bestaan oorslaan in ywer vir die koninkryk. Of, in gewone taal gesê: jou prioriteite word omgeswaai, jou agenda word herskryf en jou geluksprogram word so her-geprogrammeer dat die koninkryk en die wil van God nommer een word.
Al wat ek kan sê is dat Jesus ons nooi om kreatief en persoonlik hierop te reageer. Ek stem saam dat bekommernis oor geld en goed nie ’n dag by my lewe gaan voeg nie. Dat ek, by al die energie en beplanning wat dit vat om liggaam en siel aanmekaar te hou, nie my fokus van Jesus wil laat dwaal nie. Dat ek, terwyl ek werk en leef en liefhet, dit met die koninkryk in die middelpunt van my gedagtes wil doen. En die vryheid hiervan is onbeskryflik. Miskien is dit hoekom Jesus dit kwyt raak.
Natuurlik het die Here niks teen navorsing, ekonomie, wetenskap en kuns nie. Inteendeel. Die koninkryk van God loop soos 'n gouedraad deur al hierdie dinge; dit maak ‘n draai in ons kombuis en in ons klerekas. Dit is juis deel van die vreemde en die verrassende van die koninkryk. Want Jesus sê: God sal al hierdie dinge vir julle gee.
Daarom: hou op om te bekommer. Begin beywer. Beywer julle om die wil van God te doen. En glo dan dat God in die ander dinge sal voorsien. So 'n houding noem die Woord van God geloof. En geloof is nie ‘n kragtoertjie nie, maar ‘n afhanklikheidstoertjie.
Comments